Local newsNews

Bebaarde broederskap baat by entoesias

Vir dié baardbroer is daar niks lekkerder as om die wind deur sy baard te voel nie.

Om jou skeermes te bêre en by die bebaarde broederskap aan te sluit is ongelukkig nie vir almal beskore nie.

Toe Phil Meyer ongeveer sewe jaar terug besluit het om deel te word van dié manskultuur sou hy nooit kon raai dat dit vandag ‘n integrale deel van sy identiteit sou vorm nie.

“Ek en Freddie Nest was baie na aan mekaar. Toe ek so ‘n paar jaar gelede uitvind hy het breinkanker het ek al my kophare afgeskeer, en besluit om my baard te laat groei om hom en almal wat chemoterapie ontvang te ondersteun,” het hy vertel.

“Alhoewel my baard intussen een keer afgeskeer moes word om dit gesonder te laat groei, het ek ‘n belofte gemaak om dit nooit weer te doen nie. Ek moes al soveel mense in my lewe aan kanker afstaan, daarom is dit ‘n saak wat my baie na aan die hart lê.”

Sedertdien het hy geleer hoe om sy baard te versorg en beskou die proses as ‘n kuns. Vir dié baardbroer is daar niks lekkerder as om die wind deur sy baard te voel nie.

Dit was dus geen verrassing nie toe Phil onlangs koning gekraai het by die gesogte Rowwe Bliksem Baard Kompetisie wat op Saterdag, 19 Maart by Potchefstroom se Geesfees gehou is. Daar was drie kategorieë – Bejaarde Baard, Geroeste Baard en Algehele Rowwe Bliksem.

“Ek het nooit in my wildste drome gedink dat ek so ‘n kompetisie sou wen nie, veral nie nadat ek so ‘n paar weke gelede ongeveer 10cm afgesny het nie. Gelukkig het die kompetisie gegaan oor die bes versorgde baard. Die beoordelaars en die gehoor het baie van my selfgekweekte skepping gehou,” het hy in sy skik vertel.

Sy passie vir ‘n mooi baard is so groot dat hy onlangs sy eie reeks baardsorgprodukte bekendgestel het. Phil’s Beard Grooming Services het tans produkte soos baardolie, ‘leave-in conditioner’ asook snorwas beskikbaar.

Nes die meeste vroue volg Phil ‘n intensiewe haarsorgroetine wat enige gesigshaarliefhebber se kop sal laat draai. Die geheim tot ‘n gesonde baard, meen Phil, begin deur dit gereeld te knip – so een of twee keer ‘n maand – om van die gesplete punte ontslae te raak.

Dan is dit vir hom belangrik om ‘n sagte baard te hê, een wat lekker kan streel en in die wind sal waai. Daarom is daaglikse opknapping ‘n móét.

“Ek was my baard egter elke twee tot drie dae om te verseker dat die natuurlike olies nie verlore gaan nie. Ek sal dan my baard met ‘n houtkammetjie kam omdat plastiek geneig is om die hare te breek. Dan kam ek van onder na bo, om te verhoed dat ek die hare uittrek of breek,” het hy vertel.

Daarna wend hy sy baardolie aan. Dié olie is nie vir die hare nie, maar vir die vel. Volgens Phil stimuleer dit die haarfollikels en bevorder effektiewe groei.

Hy sluit die roetine af deur van die ‘leave-in conditioner’ deur die hare te versprei, wat ook bydra tot die sagtheid daarvan.

“Ek gebruik glad nie enge hitte op my hare nie – nie ‘n haardroeër of ‘n tang nie want dit breek ‘n baard. Ek los hom dat hy droog word. Hy sal self sy vorm kry,” het Phil vertel.

Hulle sê ‘n man sonder ‘n baard is soos ‘n koning sonder ‘n kroon. Dié baardentoesias droom daarvan om sy produkreeks uit te brei en in winkels landswyd te sien sodat elke man soos ‘n koninklike kan voel.

“Al het ek in ‘n weeshuis grootgeword, het ek van jongs af geweier dat my omstandighede my definieer. Dit maak nie saak waar jy vandaan kom nie, as jy ‘n droom het kan jy dit laat gebeur. Ek is net iemand wat passievol is oor baarde, en ek hoop om daardie passie met soveel mense moontlik te deel,” het hy ten slotte vertel.

Related Articles

Back to top button