Local newsLocal sportNewsSchoolsSport

Havies-onnie deel haar passie

As Ashley nie op haar fiets is nie, is sy óf in die klaskamer óf op die sportveld.

Met ‘n ingebore liefde vir enige iets aktiefs was Laerskool Dr Havinga se juffrou Ashley de Souza nog altyd op die een of ander sportveld te vinde.

Alhoewel sy nog altyd lief was vir sportsoorte soos netbal en hokkie het sy ongeveer vyf jaar gelede begin bergfiets ry.

“Ek was in 2018 op universiteit toe my oom my aan die wêreld van bergfietsry voorgestel het. Ek het dadelik daarvan gehou en gou besef dit dien ook as ‘n lekker manier om van my frustrasies ontslae te raak,” het Ashley vertel.

Ashley de Souza het ‘n groot liefde vir bergfietsry ontwikkel. Foto: Action Photo.

Sy neem tans deel aan die King Price Trailseeker waarvoor sy elke maand 40km of 70km in ‘n ander provinsie ry. Dit was net ‘n kwessie van tyd voor Ashley ‘n paar bekende fietswedrenne by haar emmerskoplysie gevoeg het.

Een van hulle is die bekende Cape Town Cycle Tour (voorheen die Cape Argus) wat sy met groot toewyding op 13 Maart in ‘n uitmuntende vier uur en 22 minute voltooi het.

“Dit was my eerste keer op ‘n padfiets, en dit was baie erg. Maar waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg – mens besef nie altyd waartoe jou lyf in staat is nie,” het Ashley vertel.

“Ek het gebid dat dit nie sou reën nie, maar toe tref die sterk wind ons. Alhoewel ek opgewonde was om die 109km padfietswedren op my emmerskoplys af te merk, verkies ek veel eerder die bergryfiets op ‘n rowwe terrein.”

As Ashley nie op haar fiets is nie, is sy óf in die klaskamer óf op die sportveld waar sy graag naelloop-, netbal-, en hokkiespanne afrig. Sy is ook betrokke by die skool se Happy Feet en Veldvriende.

Ashley de Souza op haar bergfiets. Foto: Action Photo.

Aangesien sy ewe lief vir sport en kinders is, is haar pligte ‘n kombinasie wat dié onderwyseres vir niks in die wêreld sal verruil nie.

Sy sien daarna uit om op 9 April aan ‘n 53km-bergfietswedren in die Vrystaat deel te neem. Sy wil ook in die toekoms aan die 947 Cycle Challenge deelneem, asook die gesogte Sani2C.

“Ek sal graag wil aanhou fietsry. Ek wil oefen en verbeter omdat dit iets is wat my geluk bring en ook gesond hou. Boonop is dit vreeslik lekker om net buite in die natuur te kan wees,” het sy ten slotte vertel.

Related Articles

Back to top button