‘Ek kan hierdie een wen…’

Toe Natasha die ontstellende nuus ontvang het, kon sy dit eers nie glo nie, en het sy haarself oortuig dat sy verkeerd gehoor het.

Om uit te vind dat jy, of iemand vir wie jy omgee, kanker het, is ‘n lewensveranderende oomblik. Die aanvanklike skok kan veral oorweldigend wees as jy dit nie verwag het nie.

Diegene wie se paaie al met Krugersdorp News-joernalis Natasha Pretorius s’n gekruis het, het onlangs saam in haar teleurstelling gedeel toe haar lewe tot stilstand geruk is. Op 21 Januarie het dié passievolle verslaggewer uitgevind sy het kleinsel-neuroëndokriene karsinoom van die serviks – ‘n seldsame tipe servikale kanker.

“Ek het sekere simptome gehad maar het lank gedink dis stres. Ek het in Desember 2021 dokter toe gegaan vir iets anders en het haar sommer vertel van my simptome,” het sy verduidelik.

“Sy het gesê ons doen sommer ‘n toets want dit was weer tyd. Ek het nooit my ondersoeke oorgeslaan nie. Ek is gevolglik in Januarie vir ‘n biopsie gestuur en op 21 Januarie (dieselfde dag as wat my gunstelingsanger Meatloaf oorlede is) het ek gehoor ek het kanker. Ek onthou ek het vir myself gesê dit kan nie waar wees nie. Daar is dan niks fout met my nie.”

Natasha het haarself oortuig dat sy verkeerd gehoor het, maar ‘n oproep na die dokter ‘n paar dae later het egter bevestig dat sy wel met ‘n lewensgevaarlike siekte gediagnoseer is.

Natasha Pretorius and Janine Viljoen, journalist and editor of the Krugersdorp News, show off their colourful hair and beautiful smiles. Photo: Jaco Human.

Sy moes gevolglik ‘n operasie ondergaan om die gewas te laat verwyder en het terselfdertyd ‘n radikale histerektomie ondergaan.

“Ek en my eksman het hard probeer vir kinders. Dit was nog altyd my droom om ‘n ma te word, maar nou sal ek maar net die cool tannie moet wees. Ek het nie besef hoe vinnig jou lewe kan verander en hoe baie so iets jou as mens sal verander nie,” het sy gesê.

“Alles wat gebeur is vir my spesiaal want ek weet hoe vinnig dit weggevat kan word. Ek kyk met sagter oë en ‘n meer dankbare hart na die mense in my lewe,” het sy by gevoeg.

Natasha het verder vertel dat sy chemoterapie sal ontvang sodra sy van die operasie herstel het. Aangesien dit ‘n aggressiewe neuroëndokriene kanker is, is chemo haar beste opsie.

Sy het gevolglik besluit om dit dag vir dag te vat. Alhoewel sy goeie en slegte dae ervaar, voel sy elke dag sterker en bly dankbaar vir dié wat haar ondersteun.

Aangesien Natasha al vir byna vier jaar die plaaslike gemeenskap as joernalis dien, word haar teenwoordigheid by amper elke funksie en gebeurtenis in dié dorp gemis.

“Ek besef dat mense se pad met kanker verskil. Al is ek nou maar eers aan die begin van die pad, hoop ek elkeen hou aan veg. Ek bid dat hulle goeie dokters en ondersteuning het, en ek hoop hulle besef hulle is nie alleen nie. Een van die mense wat vir my baie beteken in dié tyd is ‘n vriendin wat self deur so iets is. Sy laat my voel of ek kan veg,” het Natasha, wat talle mense inspireer, ten slotte vertel.

News journalist Natasha Pretorius just helped load the bakkie with books.

“Ek wil ook graag dankie sê. Dankie vir my vriende, vir my gemeenskap. Vir elke gebed, elke boodskap en elke oproep. Veral vir my familie wat so mooi na my kyk. En vir my ma – ‘dankie’ sal nooit genoeg wees vir als wat sy vir my doen nie.”

Caxton Wes-Rand wens vir Natasha alle sterkte toe op haar pad na herstel, en kan nie wag om haar borrelende persoonlikheid weer terug te verwelkom nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version