Local newsNews

Tienerskoonheid met ‘n liefde vir kinders

'Aangesien ek in 'n huis grootgeword het wat graag ander help, is dit op my hart gelê om my eie projek te loods.'

Die 15-jarige Lia Jansen is besig om ‘n stewige fondasie in die skoonheidswêreld te lê.

Alhoewel sy eers in 2019 by Ace Models Westrand aangesluit het, is sy reeds volstoom aan die gang met haar eerste gemeenskapsprojek.

“Daar word nog nie van my vereis om enige projekte te onderneem nie, maar aangesien ek in ‘n huis grootgeword het wat graag ander help, is dit op my hart gelê om my eie projek te loods,” het Lia vertel.

Aangesien sy nog altyd lief was vir kinders het sy dit goedgedink om die Baby Moses Children’s Sanctuaries in Roodepoort en Krugersdorp te ondersteun. Baby Moses is ‘n toevlugsoord en plek van veiligheid vir mishandelde, verstote en verwaarloosde babas, kleuters en tieners.

“Ek het aanvanklik nie gedink dat ek so baie van die modelwerk sou hou nie, maar dit het gehelp om ‘n baie teruggetrokke meisie met meer selfvertroue toe te rus. Ek kan boonop ander mense help in die proses,” het Lia met ‘n glimlag vertel.

Lia Jansen is passievol oor kinders. Foto: Verskaf.

Aangesien daar baie skenkers betrokke is by ‘n gevestigde niewinsgewende organisasie soos Baby Moses, beoog Lia om die kinders te bederf met persoonlike geskenkies vir hul verjaarsdae. Daarom benodig sy items soos klere, skoene, toiletware, koeldrank, lekkernye, iets persoonlik/ spesiaal, en kolwyntjies vir die kinders om skool toe te neem.

“Ek sal dit nie sonder die gemeenskap se ondersteuning kan doen nie. Daarom wil ek graag vra dat enigiemand wat belangstel, die inisiatief ondersteun. Die kinders verdien om spesiaal te voel op hul spesiale dag, en saam kan ons dit laat gebeur,” het sy vertel.

Lia Jansen is passievol oor kinders. Foto: Alanicka Lotriet.

Alhoewel Lia op Saterdag, 5 Maart aan haar eerste offisiële skoonheidskompetisie deelneem, sien sy uit na verskeie ander wat na verwagting deur die loop van die jaar sal plaasvind. Sy hoop ook om so meer bewusmaking rondom haar projek te skep met die doel om soveel moontlik kinders te kan help.

Indien jy meer wil weet oor die komende verjaarsdae by Baby Moses, kan jy gerus vir Liezel (Lia se ma) skakel by 083 659 6366. Volgens Liezel is enige skenkings van klere en skoene vir kinders tussen die ouderdom van twee en 18 jaar welkom.

Hulle is ook op soek na ‘n borg vir 25 rugsakke om die minderbevoorregte kinders mee te bederf.

Related Articles

Back to top button