Local newsNews

Kruiner Kleuters verwelkom polisie

Sommige maats het selfs die geleentheid gehad om sersant Sechel se boeie vas te hou.

Nie alle helde dra noodwendig ‘n mantel nie – om die waarheid te sê, die meeste helde kan nie vlieg nie. Hulle is soms doodgewone polisiebeamptes met ‘n passie vir hul werk en die gemeenskap.

Op Vrydag, 25 Februarie is die maats by Kruiner Kleuters verras met ‘n besoek deur drie onbesonge helde van die Wes-Randse K9 Eenheid. Sersant Owen Sechel, sersant Israel Mothupi en hul vierpotige kollega Luna is met groot opgewondenheid verwelkom.

Sersant Sechel, Zaya van Niekerk en Joshua Bosch. Foto: Alanicka Lotriet.

Elke maat het aandagtig geluister toe sersant Sechel hulle meer vertel het van die Honde-eenheid en hoe polisiebeamptes die gemeenskap veilig hou. Sommige maats het selfs die geleentheid gehad om sersant Sechel se boeie vas te hou en ook self ‘n paar vrae aan hom te rig.

Volgens skoolhoof Bianca Jacobs vorm dié opwindende instappie deel van hul jaarlikse tema, ‘Mense wat ons help’ en is daar heel week gefokus op die polisie en hul rol in die gemeenskap. Maats tussen die ouderdom van een en drie het boonop kleurvolle polisie badges gemaak terwyl die Graad RR-maats hul eie polisiehoedjies gemaak het.

Sersant Israel Mothupi saam met onderwyser Karin Earle, Bismarck Earle en sersant Owen Sechel. Foto: Alanicka Lotriet.

“Dis vir ons as skool belangrik dat die kinders nie bang moet wees vir hierdie mense nie. Die kinders word in ‘n baie onseker tyd groot en hulle moet weet wie is daar om ons te help in tye van nood,” het Bianca vertel.

Sersant Sechel, Zaya van Niekerk, Joshua Bosch en Emily de Klerk. Foto: Alanicka Lotriet.

“Ons sê graag baie dankie aan die Wes-Randse Honde-eenheid. Hulle was uitstekend. Hulle het die kinders met soveel liefde hanteer en die kinders soveel geleer. Dit is uiteindelik ons werk as onderwysers om te besef dat daar altyd een oomblik is in ons kinderjare wanneer ‘n deur oopgaan en ‘n toekoms binnekom; ons by Kruiner Kleuters probeer vir ons kinders soveel moontlik sulke oomblikke skep.”

(Middel en regs) Dian Claassen en Janika Yssel. Foto: Alanicka Lotriet.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button