Local newsNews

Paartjie vier mekaar op Valentynsdag

Die verliefdes het geweet dis net 'n kwessie van tyd voor hulle die res van hul lewens saam sal deurbring.

Alhoewel dit soms moeilik kan wees om liefde te definieer, weet ons dis ‘n keuse – nie ‘n gevoel nie. Wanneer die laaste vlinders jou maag verlaat is dit dus belangrik om jou ander helfte, en hul foute, elke dag te kies.

Vir die afgelope twee jaar het plaaslike paartjie, Crystal Kopf en Ernst Maritz nog elke dag daardie besluit geneem – al is dit sommige dae ‘n bietjie makliker as ander. Dié paartjie het vertel dat hul liefde beslis met die eerste oogopslag begin blom het.

“Ons het mekaar op 25 Januarie 2020 deur sy beste vriend en my beste vriendin ontmoet. Ons sou net saam met vriende kuier daardie dag, gevolglik was ons ontmoeting eintlik heel toevallig,” het Crystal vertel.

“Daar was net ‘n onmiddellike konneksie en belangstelling van albei kante af. As jy die regte een ontmoet dan weet mens net. Dis ‘n onbeskryflike gevoel.”

Die verliefdes het geweet dis net ‘n kwessie van tyd voor hulle die res van hul lewens saam sal deurbring. Ernst het gevolglik verlede jaar op 25 September die groot vraag gevra, en Crystal se antwoord was natuurlik ‘n definitiewe ‘ja’. Hulle sien daarna uit om in Oktober vanjaar trou aan mekaar te belowe.

“Ek kan nie wag om die res van my lewe saam met die liefde van my lewe te spandeer nie. Ek is lief vir haar vir haar vriendelikheid, haar omgeehart en omdat sy by my staan deur dik en dun – maak nie saak hoe moeilik dinge raak nie. Sy is ‘n sterk vrou en sy staan sterk in haar geloof. Ek bewonder haar daarvoor,” het Ernst vertel.

Die verloofde paartjie is lief vir paduitstappies, die buitelewe en ook om saam na die F1-wedrenne te kyk.

“My gunstelingeienskap van Ernst is beslis sy standvastigheid en dat ek altyd veilig voel by hom. Hy is ook baie ambisieus and avontuurlustig. Mens is nooit verveeld saam met hom nie,” het Crystal vertel.

Hulle het op 14 Februarie hul tweejaar-verhoudingherdenking met ‘n romantiese ete gevier en sien uit na nog ‘n leeftyd van Valentynsdae saam.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button