Local newsNews

Helpende Hand open Roodepoort se eerste Ons Plek

Hervormde Kerk Horison huisves die nuwe baken van hoop vir die gemeenskap.

Agter die beskermende skild van liefde en opvoeding vind groei plaas.

Om ‘n veilige hawe vir kinders in nood te skep, het Solidariteit Helpende Hand Roodepoort hul eerste Ons Plek by die Horison Hervormde Kerk geopen. Hulle sal naskoolfasiliteite vir die kinders bied, wat daagliks ‘n gebalanseerde maaltyd sowel as fisiese en geestelike stimulering insluit. Borge, ouers, vrywilligers en Solidariteit-lede het die opening op 2 Februarie bygewoon.

Ons Plek-sentrums word gevestig in gebiede waar ‘n groot behoefte deur ‘n assesseringskomitee geïdentifiseer is. Om ‘n geskikte plek te vind is een van die grootste uitdagings, maar die gemeente het toestemming gegee dat hul fasiliteite die gemeenskap se baken van hoop kon word. Die sentrum sal begin deur dienste vir Graad R’e tot Graad 7’s aan te bied, en sal daarna streef om uit te brei na die kleuterskool en hoërskool soos die sentrum vorder. “Dit was die afgelope drie jaar my droom, en ek bedank almal wat dit moontlik maak,” het die Streeksorganiseerder van Helpende Hand, Wes-Rand en Vaaldriehoek streek, Mariëtte van de Werken gesê.

Hannes Noëth, Mariëtte van de Werken en Suzette Oosthuizen. Foto: Jarryd Westerdale.

Die sentrum bly hoofsaaklik aan die gang danksy borgskappe en ondersteuning van lede regoor die land. Elkeen wat aansoek doen om ‘n plek by Ons Plek se individuele behoeftes word geassesseer en hulp word dienooreenkomstig verleen. “Almal sal op die een of ander manier bydra. Dit gaan daaroor om trots en respek aan die gemeenskap terug te gee, en as mense sukkel kan hulle hul tyd vrywillig aanbied om byvoorbeeld in die kombuis of op enige ander manier te help,” het Hoof van Sentrum en Nasionale takke van Helpende Hand, Suzette Oosthuizen gesê.

Die nuwe lokaal is die vyfde soortgelyke een met Suzette wat die doelwit stel om 30 van hierdie sentrums te hê wat behoeftige gemeenskappe bedien. Ivana Pfister sal die sentrum bestuur en word deur Dylan Erasmus bygestaan. Hulle sal van Maandag tot Vrydag bedags van 13:00 tot 17:00 oop wees. Kinders word elke dag deur ‘n bestuurder by hul skool opgelaai en die aand deur die bestuurder terug huis toe geneem.

Ivana Pfister. Foto: Jarryd Westerdale.

Senior Solidariteit-lede het die groot geleentheid bygewoon, met direkteur Hannes Noëth wat soos altyd geïnspireer het. “Dit kom daarop neer dat ons ‘n kind ‘n kans moet gee. Die toekoms van ons kinders is ‘n verantwoordelikheid wat ons almal moet aanvaar. Hulle toekoms is nie ons s’n nie, maar ons kan verseker hulle is voorbereid daarop. Ons droom groot en hierdie is ‘n monument vir die toekoms,” het Hannes gesê.

Binne die eerste drie weke nadat Ons Plek Horison sy deure geopen het, het hulle getalle van een kind tot ‘n klas van 14 gegroei. Mariëtte skat hul getalle kan tot ongeveer 40 styg, afhangend van die bydraes deur borge en vrywilligers. Vir inligting oor aansoeke, kontak vir Mariëtte by 071 548 8013 of mariette@helpendehand.co.za.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button