LettersLocal newsNewsOpinion

Nuwe jaar, dieselfde jy …

Daarom, miskien in plaas daarvan om jouself te probeer verander in 'n 'nuwe' jy, hoekom nie probeer om 'n 'beter' jy te wees nie?

Toe die horlosie op 31 Desember middernag slaan, het almal die nuwe jaar met baie opgewondenheid en entoesiasme verwelkom, hoopvol vir ‘n jaar gevul met nuwe uitdagings, geleenthede en seëninge.

Dit is ook die tyd van die jaar wanneer jy die frase, “Nuwe jaar, nuwe ek” ad nauseum sal hoor, aangesien mense lang lyste met nuwejaarsvoornemens maak; voornemens wat dikwels net ‘n week of twee hou.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek sê nie dat jy nie nuwejaarsvoornemens moet hê nie. Ek sê wel dat ons miskien die tipe besluite wat ons neem en die manier waarop ons na die ontelbare geleenthede kyk wat ‘n nuwe jaar bied, moet heroorweeg .

Ja, om gewig te verloor, gesonder te eet, meer te oefen of minder koffie te drink is goeie en edele besluite, maar is dit volhoubaar? Kort voor lank gaan jy moeg word vir slaaiblare en die reuk van die gimnasium om 05:00, of na kafeïen smag. Aangesien jou voornemens voor die einde van die eerste maand van die nuwe jaar by die agterdeur sal uit wees, gaan jy soos ‘n mislukking voel.

In plaas daarvan om die nuwe jaar te sien as ‘n geleentheid om lyste te maak van (dikwels) onbereikbare en onvolhoubare dinge wat jy meer moet doen, dink daaraan as ‘n boek met 365 leë bladsye. Hierdie boek gee jou die geleentheid om die skrywer van jou eie storie te wees en dit te skryf soos jy dit wil hê.

Daarom, miskien in plaas daarvan om jouself te probeer verander in ‘n ‘nuwe’ jy, hoekom nie probeer om ‘n ‘beter’ jy te wees nie? Amper soos ‘n jy: weergawe 2.0. Hoekom nie ‘n tree terugstaan nie en aan maniere dink waarop nie net jy nie, maar ook diegene rondom jou gelukkiger kan lewe?

Probeer om meer opreg te wees in jou daaglikse lewe, glimlag meer vir vreemdelinge, lag meer, spandeer meer tyd saam met jou geliefdes, hou op om jou te bekommer oor ander se opinies, en leef voluit! Probeer om meer op die positiewe te fokus en tel jou seëninge elke dag en, as jy kan, help diegene in nood.

Ek deel graag ‘n baie gepaste aanhaling van Paulo Coelho: “Life is short. Kiss slowly, laugh insanely, love truly and forgive quickly”.

Tot volgende week, bly veilig en gee om vir mekaar …

Related Articles

Back to top button