Fluitspeler vaar goed in nasionale kompetisie

Dié talentvolle 16-jarige het vir 23 ander jong kunstenaars ore aangesit.

Die fluitspeler Daniël Spies het onlangs ‘n volgepakte ouditorium betower toe sy towerstaf (die dwarsfluit natuurlik) hom ‘n algehele derde plek by die Nasionale Jeugmusiekkompetisie verseker het.

Dié talentvolle 16-jarige het vir 23 ander jong kunstenaars ore aangesit toe hy boonop as kategoriewenner vir houtblaasinstrumente aangewys is. Die gesogte brons- en silwermedaljes het hom ‘n prysgeld van R13 000 in die sak gebring.

Volgens Frikkie Odendaal van die Nasionale Jeugmusiekstigting (NJMS) het die kompetisie, wat vroeg in Desember plaasgevind het, ‘n hoogtepunt bereik toe die finaliste ‘n uitstekende galakonsert aangebied het.

Die kompetisie is in die Hugo Lambrechts Ouditorium in Parow, Kaapstad gehou.

“Die finaliste het in ‘n Covid-protokolgehandhaafde ouditorium teen mekaar meegeding onder begeleiding van die Kaapstad Filharmoniese Orkes (KFO), gedirigeer deur Brandon Phillips. Dit was ‘n fantastiese optrede deur topgehalte musikante van regoor die land,” het Frikkie vertel.

Met die gesogte toekennings in die sak droom Daniël daarvan om oorsee te studeer en daar met professionele musikante en dirigente saam te werk. Hy sal graag êrens in Europa as solis of as ‘n orkesmusikant wil werk, en moontlik later as ‘n musiekprofessor by ‘n internasionale universiteit in diens wees.

Hy speel graag klassieke musiek, en sy gunstelingstyl is dié vanuit die romantiese tydperk met komponiste soos Faure en Doppler omrede daar baie emosie betrokke is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version