Local newsMunicipalNews

Ontmoet die VF+ se kandidaat vir Wyk 70, Regardt Pelzer

Hy staan vir Wyk 70 wat bestaan uit Florida, Florida Hills, Florida-Noord, Florida Park, Florida-Meer, Fleurhof, Robertville en die gekonsolideerde Main Reef-goudmyn.

Regardt Pelzer, 46, plaaslike regering-kandidaatraadslid vir Wyk 70, het onlangs vrae oor die komende verkiesing beantwoord. Hy staan vir die VF+.

V: Wat sou jy anders doen as die huidige wyksraadslid?
A: Ek sal op voetsoolvlak luister na die kiesers; die probleme en begeertes van die kiesers probeer aanspreek in plaas daarvan om agter verskonings te skuil. Ek wil beter kommunikasie bewerkstellig tussen kiesers en amptenare, en die munisipaliteit as geheel.

V: Hoe is jy betrokke by die gemeenskap?
A: Ek en my familie bly nou al vier jaar in hierdie kiesafdeling en die grootste deel van my lewe in die metropool, waar ons betrokke is by ons kerk en verskeie skole. Ons is aktief betrokke op verskeie sosiale media platforms soos die buurtwag en munisipale diensleweringsgroepe. Ek is ook lid van verskeie gemeenskapsorganisasies.

V: Watter ervarings uit die verlede maak jou uniek gekwalifiseer vir hierdie rol?
A: My beroep is in die finansiële dienste-sektor en ek sal my kennis en ervaring kan gebruik om die munisipaliteit in ‘n oorsigrol beter verantwoordbaar te hou. Ek sal poog dat begrotings beter bestuur word. Korrupsie sal nie geduld word nie, in lyn met die Vryheidsfront Plus se grondwet, grondslag en missie.

V: Wat is jou visie vir jou wyk?
A: My visie vir die wyk is dat fondse so bestuur word om waarde toe te voeg aan die wyk; om infrastuktuur nie net behoorlik te onderhou nie maar om infrastruktuur uit te brei. My visie is dat die kiesers groter insae moet hê in munisipale bedrywighede en om sodoende die begeertes en wense van die gemeenskap effektief te kommunikeer met die munisipaliteit.

V: Hoe voel jy kan hierdie visie bereik word?
A: Ek sal as raadslid moet seker maak dat stelsels ontwikkel word wat verseker dat gedelegeerde magte ordelik geskied binne ‘n duidelike beleidsraamwerk in die munisipaliteit. Kommunikasie tussen kiesers en die munisipaliteit is die sleutel tot sukses. Dis die kiesers se stem en dit is tyd dat hul stem gehoor word.

V: Hoe weerspieël jou party jou persoonlike oortuigings?
A: My party weerspieël my persoonlike oortuigings tot op die letter. Ek en my party staan vir Christelike normes en waardes. Ek, soos die Vryheidsfront Plus, glo aan regverdigheid, billikheid en my reg op beskikking as ‘n minderheid.

V: Vertel die inwoners van jou wyk in 50 woorde of minder waarom hulle vir jou moet stem.
A: Ek veg vir heffing van billike tariewe/ belastings; effektiewe besteding van munisipale fondse op infrastruktuurontwikkeling en instandhouding; die ontwikkeling van selfstandige gemeenskappe; en desentralisering van plaaslike regerings; en magsafwenteling tot op die naaste vlak aan inwoners. Ek staan daarvoor dat bevoegde en kundige amptenare op meriete aangestel word.

DISCLAIMER: Caxton Local Media is always objective. When we report on the views of politicians or political parties, the reasonable reader should be able to gather that the views are those of the interviewees, and not of the publication interviewing them. If an editor believes that there may be room for doubt in this regard, a disclaimer will be added to the reporting, stating: “The views expressed in this report were expressed by the relevant interviewee(s) and the party or parties they represent, and are not held by this publication.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button