Ontmoet die polisie honde-eenheid se Ockie

Dié kursusse het hom in staat gestel om die gesogte honde-eenheid borsspeld met trots te kan dra.

Om jou hond op te lei is ‘n groot genoeg uitdaging, maar om ‘n polisiehond op te lei is ‘n perd van ‘n ander kleur. Gelukkig is dit in adjudant-offisier Ockie Vermeulen se bloed om nie vir ‘n uitdaging te skrik nie.

Ockie het sy loopbaan as polisiebeampte by die Florida Polisiestasie afgeskop en het later by die Roodepoort Polisiestasie diens gedoen. Alhoewel hy sy pligte met groot entoesiasme nagekom het, het hy gou besef dat hy iets mis – ‘n metgesel.

“Ek het nog altyd ‘n groot liefde vir honde gehad en het daarom versoek om na die honde-eenheid oorgeplaas te word. Ek het dadelik geweet dis waar ek wou wees. Vandat ek kan onthou het ek honde om my gehad en het in die proses ‘n groot passie vir hulle ontwikkel,” het hy vertel.

Dié honde-liefhebber het gevolglik ‘n patrolliehond- en patrolliespringstofgeleiderskursus deurloop en as ‘n hondegeleider gekwalifiseer. Dié kursusse het hom in staat gestel om die gesogte honde-eenheid borsspeld met trots te kan dra.

Adjudant-offisier Ockie Vermeulen en patrolliehond Aarto. Foto: Alanicka Lotriet.

Vir ongeveer tien jaar het Ockie en sy vierpotige metgeselle hulself toegewy aan misdaadsbekamping en om hulp aan ander eenhede te verleen. Hy het met groot heimwee oor sy eerste twee honde, Mushka en Rambo gesels. Albei honde was opgeleide patrolliespringstofhonde.

In die proses van instrukteur word by die honde-eenheid het hy ook spesiale bande met dwelmhonde Victor en Os gevorm.

“In 2005 het ek instrukteur by die Wes-Rand honde-eenheid geword. Sedertdien is ek verantwoordelik vir die opleiding van patrollie-, springstof-; narkotiese; biologiese, soek-en-redding-, en beskermdespesie-honde,” het Ockie vertel.

Hy is verder verantwoordelik om om te sien na al die polisiehonde en om te verseker dat elke hond volgens ‘n hoë standaard funksioneer.

“Dit is my absolute passie en eerste prioriteit om seker te maak dat elke hond gesonde en netjiese lewensomstandighede het. Ek verrig my pligte tot die beste van my vermoë – as hierdie honde gelukkig is, is ek gelukkig,” het hy gesê.

Moenie dink dat hierdie instrukteur vergeet het van sy pligte as polisiebeampte nie. Ockie noem dat hy taktiese en vuurwapenopleiding aanbied en steeds aktief is in misdaadvoorkoming waar moontlik.

Hy het weereens bewys dat ‘n polisiebeampte gebore en nie gemaak word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version