Kruiner-akteurs verteenwoordig SA

Vir dié Kruiners is dit beslis 'n groot voorreg om Suid-Afrika gedurende hierdie aanlynkompetisie te verteenwoordig.

Laerskool Helderkruin spog met drie leerders wat onlangs na die World Monologue Games se streeksfinaal deurgedring het.

Dit is niemand anders nie as Leané Nortje, Esteè-Mari Smit en Dané Herselman wat vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar daarin geslaag het om dié gesogte vlak in die kompetisie te haal. Alhoewel die afgelope 18 maande die kunste benadeel het, het dit nie hierdie kunstenaars se liefde vir toneelspel beïnvloed nie.

World Monologue Games is verlede jaar deur die Australiër, Pete Malicki begin. Sy doel was om ‘n inperking-vriendelike platform vir kunstenaars regoor die wêreld te skep.

Leané Nortje kan nie wag om te wys van watter stoffasie sy gemaak is nie. Foto: Ingestuur.

“Dit is beslis spesiaal dat ons tweede seisoen in ‘n Olimpiese jaar plaasvind. Die toppresteerders van 51 lande kom tans bymekaar om die wêreld te wys van watter stoffasie hulle gemaak is. Ek weet nie waar jy nog so ‘n uiteenlopende groep akteurs op een plek sal aantref nie,” het hy vertel.

Volgens Pete was daar vanjaar 40% meer deelnemers as verlede jaar. Die standaard was so hoog dat ‘n ongelooflike 367 optredes na die streeksfinae deurgedring het.

Die streeksfinale sal van Augustus tot Oktober regstreeks uitgesaai word. Daarna sal die wenners van ses verskillende kategorieë meeding om $5 000 kontant in die gesogte Global Finals te wen.

Leané verteenwoordig Suid-Afrika in die Tigers o.12-afdeling, en Esteè-Mari en Dané sal Suid-Afrika se naam in die Youth-Afdeling vir 12–17-jariges hoog hou. Vir dié Kruiners is dit beslis ‘n groot voorreg om Suid-Afrika gedurende hierdie aanlynkompetisie te verteenwoordig.

Die tydlyn van die geleentheid kan gevolg word by https://monologues.com.au/WMG-timeline.

Exit mobile version