KYK: Haasbekkie bemoedig matrieks

Danidee kan nie wag om weer vir haar Norie-maats en hul skoolfhoof, Dawie Kriel te gaan kuier nie.

Meer as 300 matrieks van Hoërskool Noordheuwel het onlangs aan sewejarige haasbekkie, Danidee Potgieter, se lippe gehang toe sy vir hulle ‘n bemoedigende boodskap oorgedra het om die oorweldigende eksamenstres te verlig.

Eksamenstres is ‘n alledaagse verskynsel wat duisende matrieks tans ervaar. Elke matriek ken daardie gevoel – ’n hol kol op die maag, slapelose nagte en gedagtes wat oorheers word deur definisies en feite. Dit is juis waarom dié Graad 1-leerder van Laerskool Dr Havinga hulle op Donderdag, 19 Augustus met die grootste vertroue en oulikste glimlag gerus gestel het.

Die volgende aanhaling kom uit haar boodskap aan die matrieks, wat as die ‘Jokers’ in hul Graad 8-jaar bekend gestaan het.

“Dit is nou die laaste hoofstuk en ek weet party van julle is bang want die eksamens is hier … ek’s net bly in Graad 1 skryf ons nog nie HEKSamens nie,” het sy vertel.

“Vandag sê ek vir julle Norie Jokers dat julle nie bang hoef te wees nie. Hierdie oulike skool het julle alles geleer – julle ken dit, man. Julle moet net in julleself glo. Julle voel dalk vandag of julle versuip maar julle moenie worry nie. Al hierdie juffrouens en menere is eintlik lewensredders in Baywatch-klere wat regstaan om in te duik en julle te help.”

Danidee het hulle met al die selfversekerdheid wat ‘n Graad 1-haasbekkie moontlik kan hê, herinner dat hulle dit kan doen en om net die Norie-golf te volg.

Kyk die video hier: 

Volgens Laerskool Dr Havinga se Grondslagfase Departementshoof, Lizelle Kies, wat die geleentheid saam met Danidee bygewoon het, het die matrieks met goeie gemoedere by die pawiljoen afgestap.

“Die matrieks en onderwysers is onder hewige stres. Dit vat reeds so baie van ‘n matriekonderwyser in ‘n gewone jaar – dink net hoeveel vat dit van hulle in ‘n tyd soos dié. Die matrieks het hierdie nodig gehad; hulle probeer en gee hul bes. Die onderwysers stap die ekstra myl vir hul leerders. Ek respekteer die onnies en die leerders so baie, en ek wil hulle graag sterkte toewens met die eksamens wat voorlê,” het Lizelle gesê.

Danidee kan nie wag om weer vir haar Norie-maats en hul skoolfhoof, Dawie Kriel te gaan kuier nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version