Koer-koer kuier te lekker

Koer-koer wat al ongeveer drie maande deel is van die Olivier gesin gaan kuier graag vir ander inwoners in die buurt.

Terwyl ons weer vlak vier van die landwye inperking is, is daar een kuiergas waarvoor almal se deure oopstaan. Dit is niemand anders nie as ‘Koer-koer’, die lagduif met die sosiale lewe van ‘n tiener.

Dié duif het duidelik genoeg gehad van die wind, weer en ander uitdagings wat ‘n gewone duif daagliks moet trotseer. Hy trek toe sommer by Agnetha Olivier en haar gesin in.

Thean en Agnetha Olivier saam met die nuutste familielid, Koer-koer. Foto: Alanicka Lotriet.

“Ons het hom eintlik by kliënte van ons oorgeneem. Hy het vir so twee weke by hulle gebly, en toe by ons gesin aangesluit. Hy was dadelik tuis en het nog nie een keer na sy vorige eienaars toe teruggevlieg nie,” het sy vertel.

Koer-koer wat al ongeveer drie maande deel is van die Olivier gesin gaan kuier graag vir ander inwoners in die buurt, waarvan baie hom by sy naam ken. Bedags vlieg hy die strate in, en snags deel hy die huis met die Oliviers.

“Hy was in die somer baie langer buite as nou dat dit kouer is. Ons los ons deure oop sodat hy en die hondjies kan kom en gaan soos hulle wil,” het Agnetha gesê.

“Deesdae is hy oral waar ek is. As ek werk, sit hy op my skootrekenaar, op ‘n kas in die kantoor of selfs op my voet voor die verwarmer.”

Sy het vertel dat hy veral lief is vir voete, en sit graag voor haar voete en pronk en koer soos net ‘n lagduifie kan. Dit is nou as hy nie op haar kop sit en haar bewegings monitor nie. Dis natuurlik ook vir Koer-koer lekker om soggens tot op Agnetha en haar man Thean se bed te vlieg en met hulle te speel.

Agnetha Olivier saam met die nuutste familielid, Koer-koer. Foto: Alanicka Lotriet.

“Hy hou van speel. Hy sal na jou vingers pik en jou soms slaan met sy vlerk, maar hy maak mens glad nie seer nie. Hy hou netso daarvan om die kinders te terg. Hy is nes ‘n woef. Veral noudat hy besef hulle wil hom nie seermaak nie, verkies hy om te stap eerder as vlieg,” het sy vertel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version