Local newsNews

KYK ‘Ons sonskynkind se plekkie is nou leeg’

Al het die dokters vir hom en sy gesin gesê daar is niks wat hulle kan doen nadat 'n breingewas in 2016 by Ruan Kok gediagnoseer is nie, het hy nie ophou baklei nie.

“Jy weet nie wanneer die dood aan jou kind se deur kom klop nie, en dit is verreweg die moeilikste en seerste pad wat ons nog gestap het. Elke dag is moeilik; ons huil nog elke dag en mis sy teenwoordigheid en gesindheid.”

So het Yolanda Kok, wat haar seun Ruan vroeër vanjaar aan die dood afgestaan het, gesê. “’n Gewas is aan die einde van Ruan se Graad 11-jaar ontdek, maar, volgens dokters was dit nie kanker nie. Ruan het in dieselfde jaar twee operasies ondergaan om die gewas te verwyder, maar dit was onsuksesvol. Na die tweede operasie het die dokters gesê hulle kan niks meer doen nie, en hulle kon ook nooit vir ons sê presies wat dit veroorsaak het nie,” het Yolanda verduidelik.

Lees ook: “My boek, en my storie, is vir almal bedoel”

Hierdie tipe diagnose sal vir enige persoon ‘n groot skok wees en veroorsaak dat hulle in sak en as gaan sit, maar dit was nie die geval met Ruan nie – inteendeel, dit het hom net gemotiveer om die lewe met albei hande aan te gryp en die beste te maak van sy situasie. Hy het nie net matriek in baie moeilike omstandighede geslaag nie, maar het ook drie boeke geskryf en gepubliseer.

 

Yolanda het vertel dat die laaste vyf jaar glad nie maklik was nie, en dat dit hartverskeurend was om haar kind te sien agteruitgaan, “Die gewas het sistematies Ruan se liggaam aangeval. Hy was vir amper vyf jaar siek, en in daardie tydperk was daar nooit regtig ‘n tyd wat hy beter geword het nie. Daar was maar altyd iets in sy liggaam wat agteruit gegaan het. Sy gehoor het heel eerste baie vinnig verswak, daarna was dit sy visie en balans, en hy kon ook nie meer sonder hulp loop nie. Hy kon nie meer sluk nie, en daar is vir hom ‘n maagbuis ingesit. Hy moes ook later voltyds suurstof ontvang.”

Sy het bygevoeg dat Ruan verskeie kere in die hospitaal was. “In November 2019 was hy vir 32 dae in die intensiewesorg-eenheid nadat hy ‘n operasie moes ondergaan as gevolg van vog wat op sy brein opgebou het. Na hierdie operasie kon hy glad nie meer praat nie,” het ‘n emosionele Yolanda vertel.

Ruan se lewe het ‘n absolute uitdaging vir hom geword, maar hy het nooit opstandig, aggressief of bitter geraak nie. “Ruan was altyd positief, hy was nooit ondankbaar nie en het altyd net ‘n mooi en dankbare gesindheid geopenbaar.”

‘n Bewys van hierdie vasberadenheid is die feit dat Ruan drie boeke in hierdie tydperk voltooi het. “Ons as gesin het besluit dat ons ons seun se nalatenskap wil laat voortleef, en daarom is al sy boeke nog in druk, en ek versprei dit self. Ek sal graag Ruan se boeke so ver as moontlik wil versprei, sodat mense sy storie kan hoor, en sy gesindheid kan sien; sy uitkyk op die wêreld, sy liefde vir mense en God, en die impak wat hy op die gemeenskap gehad het”.

Haar boodskap aan ouers is eenvoudig, “Daar word altyd vir kinders gesê dat hulle hul ouers moet waardeer, maar bitter min ouers besef dat hulle hul kinders moet waardeer, want hulle is net vir ons geleen. Dit is hoekom jy, wanneer so ‘n tipe tragedie jou tref, jy moet besluit om altyd ‘n positiewe gesindheid te hê. Dit is nie net een persoon se werk om die versorging te behartig nie, en dit kan ook nie ‘n 50/50-geval wees nie. Elkeen moet bereid wees om 100% te gee om te verseker dat die nodige gedoen word.”

Ruan was ‘n Hoërskool Florida-leerder, en hulle het die volgende boodskap op hul Facebook-blad geplaas. “Dit is met groot hartseer wat ons verneem het van ‘n oud-Florrie, Ruan Kok, se afsterwe op 27 Maart 2021. Hy was vanaf 2013 tot 2016 in Hoërskool Florida. In Graad 11 is hy met n breingewas gediagnoseer. Ons innige simpatie aan sy ouers en broer.”

Ruan Kok in 2017, net nadat hy sy eerste boek geskryf het. Foto: Adéle Bloem.

 

Related Articles

Back to top button