Huldeblyke aan Simoné van Zyl

Na die tragiese afsterwe van Laerskool Dr Havinga-onderwyseres, Simoné van Zyl, het huldeblyke ingestroom.

Na die tragiese afsterwe van Laerskool Dr Havinga-onderwyseres, Simoné van Zyl, het huldeblyke ingestroom. Almal wat haar geken het, en selfs diegene wat net van haar vriendelikheid gehoor het, is in rou gedompel.

Lees oorspronklike artikel hier: Havies en gemeenskap rou oor dood van jong onderwyseres

‘n Paar van haar kollegas en vriende het die volgende boodskappe gestuur:

Simoné se voormalige netbalafrigter by Hoërskool Bastion, Petru van Zyl:
Simmie:Klein botteltjie ,groot gif.
Simoné van Zyl(Kok) word gekies tot AV van die eerste span. Sy speel die posisie saam met haar 2 niggies op Doel en Hulpdoel. Die span is kookwater en maak skoonskip in die liga en kwalifiseer vir Gautengkampioenskappe.

Die jaar daarna vorm Simoné deel van die span wat netbal vir die eerste keer in Mauritius gaan bekend stel.As speelster het sy n rustigheid op die baan gebring.Sy was geliefd onder haar mede spanmaats en die jonger speelsters het na haar opgekyk. Altyd stiptelik,vriendelik en committed.Iemand wat n blywende indruk gemaak het op almal om haar.Bastion netbal sal haar altyd onthou met liefde en respek.

Rus sag Simmie ons gaan jou mis,
Juf Petru.

Antoinette Jordaan, een van Simoné se mede-onderwysers:
My liefste Sim,

My woorde is min maar my herinneringe is prysloos … Ek het gewag vir jou weeklikse Sondagmiddagoproep wanneer jy in check oor die week se dinge wat voorlê. Maar daar was stilte … Sondagoggend met sonopkoms het Pappa God jou kom haal … My hart is saam met soveel ander stukkend … Dit is onwerklik …

Toe ons saam gespeel het as klein dogtertjies sou ons nooit dink ons paaie sou weer kruis nie … Waar ons saam gegroei het as assisstente, later jong onderwyseresse en ook vriendinne. Elke oomblik sal ek koester, van ons liefde vir blou, die geselsies en grappies pouse; maar ook die diep gesprekke en trane; die drukkies van bemoeidiging. Hoe wens ek dat ek jou net vir ‘n bietjie langer kon vashou en jou ruggie vryf. Hoe opgewonde jy was oor Juanékie en alles mooi beplan het vir haar koms. As jy in ‘n ander klas was en sy beweeg, hoe vinnig het jy my laat roep sodat ek kon kom voel. Jy was alreeds ‘n mamma vir soveel ander kinders en jy wou so graag ‘n mamma vir Juanékie wees. Ek onthou as ek vir Jurels moes laat weet jy is veilig want jy het per ongeluk vergeet. As ek jou op speed dial sit want ek was onseker oor iets, was jy gereed met jou checklists want jy was altyd voorbereid. Ek wag vir jou met die hoop dat jy in my klas sal instap. Die kinders mis jou. Die Gr 4-personeel mis jou. Ek mis jou. Jy was die gom wat ons by mekaar gehou het.

Wanneer ek na my klas se mure met jou harte op kyk, sal ek altyd weet jy is daar in gees.

Simi, jy het myne en ‘n magdom ander se lewens aangeraak met jou vriendelikheid, liefde, omgee, hoe doelgerig jy was en jou passie vir enige iets wat jy aangeraak het, asook jou hart van GOUD, altyd bereid om te help. Dit was aansteeklik. Jou kalmte wat oorgespoel het as dit ‘n rowwe dag was. Jy was sowaar ‘n Spreuke 31-vrou,’ n vrou van God. Ek en baie ander was bevoorreg om jou te kon ken. Jy los ‘n groot leemte in die wêreld, maar jy sal vir ewig in ons harte voortleef. My innige simpatie aan Juri, klein Juanè, familie en vriende.

Ek groet jou nie maar ek sien jou gou weer …

Rus sag my Simi, Pappa God se prinses.
Ek is baie lief vir jou.
Van Antonette.

Lizelle Kies, Simoné se Graad 2-onderwyser en nou Departementshoof by Laerskool Dr Havinga:
Simoné,

As ek aan jou dink, dink ek aan lag en lig. Ek onthou die Graad 2-dogtertjie in my klas met dimpel-wangetjies wat pragtig kon lees en altyd vir juffrou wou help. Dit het glad nie verander soos wat jy groter geword het nie. As kollega kon mens jou enige iets vra en jy was bereid om te help. Dit was vir my so lekker om te sien hoe jy groot word, groei en ontwikkel. Om te sien hoe jy ‘n puik juffrou word was seker een van my grootste plesiere en trotse oomblikke, want ek het ‘n aandeel in jou lewe gehad. Simoné, jy het ‘n verskil gemaak in elke mens se lewe met wie jy in aanraking gekom het. Jou plek by die Havies sal altyd leeg wees, maar jy leef voort in ons harte.

Liefde,
Juffrou Lizelle.

Laerskool Dr Havinga-skoolsekretaresse, Sonja Koertzen:
Simi jy gaan beslis gemis word by die skool, tussen vriende, maar die grootste gemis is tussen jou hartsmense, jou ma, pa, boetie, Jurie, familie en vriende. Juanétjie gaan natuurlik alles van jou weet, daaraan hoef jy glad nie te twyfel nie.

Jou plekkie is leeg, jou stem is stil, maar die herinneringe aan jou en die legacy wat jy agterlaat is van onskatbare waarde. Weet een ding, die hemel is beslis ‘n engel ryker, en jou skatkis op aarde sal altyd gevul wees met jou sagte glimlag, aansteeklike lag, goedhartigheid, bereidwilligheid, jou oë wat altyd ‘n storie vertel; daar is soveel wat ek kan opnoem.

Juanétjie gaan jou skatkis aanvul en voller maak soos sy groter word en meer van haar mamma uitvind.

Rus sag Simoné.

Elria Lennon, haar vriendin en kollega:
Êrens het ek ‘n aanhaling van ‘n anonieme skrywer gelees, wat my vandag weer byval …

“50 jaar van nou af sal dit nie saak maak met watter soort motor jy gery het, waar jy gewoon het, watter fabrikaatklere jy gedra het, of hoe groot jou bankbalans was nie. Maar die wêreld sal ‘n bietjie beter wees as jou lewe ‘n kind beïnvloed het om te glo, te droom en spontaan vir Christus te kies.”

Hierdie is kortliks hoe ek jou sal onthou. Jy het jou snoesige pasplek in God se plan gevind toe jy as dogtertjie op die stoepe van Dr Havinga gestap het en jare later weer hier jou rol as juffie kom inneem het. Dis asof ‘n uitgewerkte plan stelselmatig ontvou het. Dis op hierdie stoepe wat jy my kollega, my maatjie en my hartsvriendin geword het. Saam kon ons lag oor die kinders se sêgoed, bekommer oor een van “ons” kinders wat sukkel in die klas, planne maak vir die volgende revue-optrede, of sommer net kla oor alles wat nog gedoen moet word. Maar saam het ons ook gedroom, gehuil en gebid. Ek onthou vele geselsies met ‘n blikkie Coke in die hand, oomblikke waar jy langs my in die kerk gesit het, en ook tye van kuier om ‘n braaivleisvuur of bordspeletjie.

Hoewel daar honderde skitterende hoogtepunte was, is dit wat ek nou beleef ‘n sielsverlammende seer wat my lag kom steel het. Daar is soveel vrae, hoekoms en waaroms. Ek is kwaad en stomgeslaan omdat jy te vinnig uit ons lewens geneem is. Die enigste ding wat ek met sekerheid weet, is dat ek dankbaar is vir elke oomblik saam met ‘n jubelsonskynvrou, waarvoor niks ooit te veel gevra was nie. Jy was altyd daar met ‘n glimlag en ‘n druk. Jou egtheid en waardering in God en in die lewe was iets besonders en aansteeklik. Op jou stil manier was jy vir so baie ‘n vreugde, ‘n inspirasie en ‘n vingerafdruk van God hier op aarde.

Of dit nou goed of sleg gaan, musiek was nog altyd deel van die lag en traan in my lewe, en daarom dink ek vandag aan die woorde van ‘n lied deur Donna Taggart: “I am jealous of the angels around the throne tonight …” Ek sou graag wou deel wees van nog so baie dinge van jou lewe. Hoe jy sou groei en ontwikkel as juffrou. Hoe jy sou oud word saam met Jurie en hoe jy die beste mamma ooit vir Juané sou wees. Maar ek weet ons moet berusting vind in die realiteit van dinge wat ek nooit sal verstaan nie. Die hemel is ‘n engel ryker, maar jou plek in baie harte sal vir altyd leeg wees.

Lief jou, my maatjie.

Mari-Soné Neuville, haar vriendin en kollega:
Hoe sê mens totsiens vir ‘n jarelange vriendin? Ek kan aan soveel nostalgiese stories dink wanneer ek aan ons vriendskap dink. Ons was maat van graad 4 af, en ek kan iemand lank besig hou met stories oor ons oorslaapaande. Nou het ek net herinneringe oor. My hart loop oor van blydskap dat ek die voorreg gehad het om jou pragtige hart te kon ken. Jy sal nooit vergeet word nie, jy sal aanhou voortleef in ons harte.

Tot ons mekaar weer sien my liewe vriendin.

Met soveel liefde vir jou
Mari-Soné

Laerskool Dr Havinga se hoof, Marius Swanepoel:
Simoné was geliefd onder die kinders en het op so ‘n jong ouderdom reeds ‘n reuse impak op haar kollegas gehad. Sy was self hier op laerskool en dit is nog moeiliker vir van haar kollegas omdat hulle ook vir haar skoolgehou het. Sy was ingegrawe in ons gemeenskap en dit gaan moeilik wees om haar te vervang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version