Havies en gemeenskap rou oor dood van jong onderwyseres

Die 26-jarige Simoné was 'n liefdevolle vrou, 'n sorgsame suster, 'n fantastiese dogter en 'n ongelooflike onderwyseres.

Om ‘n geliefde aan die dood af te staan veroorsaak onvergelykbare pyn, en die afsterwe van Simoné van Zyl het ‘n hele gemeenskap in rou.

Die 26-jarige Simoné was ‘n liefdevolle vrou, ‘n sorgsame suster, ‘n fantastiese dogter en ‘n ongelooflike onderwyseres. Alhoewel haar tragiese afsterwe haar geleentheid om ‘n moeder te wees kortgeknip het, is dit duidelik dat sy ‘n uitstekende mamma sou gewees het.

‘n Huldeblyk aan Simoné in die voorportaal van Laerskool Dr Havinga. Foto: Amy Slocombe.

Op 29 weke van haar swangerskap is Simoné in die hospitaal opgeneem nadat sy erge hoofpyn ervaar het en haar voete geswel het. Sy is met HELLP-sindroom gediagnoseer en ‘n noodkeisersnee moes gedoen word om haar dogter se lewe te red.

Lees meer oor HELLP-sindroom hier

Klein Juané is op 4 April gebore en volgens haar familie het dit goed met haar gegaan, hoewel sy tans nog in die neonatale intensiewesorg-eenheid is. Simoné se simptome is na die geboorte behandel en sy is op 8 April ontslaan, maar drie dae later was sy weer in die hospitaal. Sy het op Sondag, 18 April tragies gesterf.

Die Laerskool Dr Havinga-onderwyseres word oorleef deur haar ouers, haar man, haar broer, en nou ook haar dogtertjie. Simoné en haar man Juri, 27, het mekaar in 2016 ontmoet, maar hul lewens as egpaar het eers ‘n bietjie meer as ‘n jaar gelede begin. Juri het sy vrou as lojaal en eg beskryf; almal het altyd veilig naby haar gevoel. Hy het gesê dat sy vrou die beste persoon was wat hy geken het. Sy wou altyd gee eerder as ontvang, en sy het soveel vir haar leerders omgegee. Voor Covid, as een van die kinders in haar klas verjaar het, het sy vir hulle ‘n geskenkie gebring. Op 21 April het haar klas die geleentheid gehad om ‘n briefie, geskenkie of huldeblyk in die skoolkantoor te plaas, wat alles later aan Juri oorhandig is.

Simoné van Zyl en haar ouers, Gert en Amanda Kok. Foto: Verskaf.

“Sy het my gemaak wie ek vandag is,” het Juri gesê. Simoné se ouers, Amanda en Gert Kok, het saamgestem. “Sy was onbaatsugtig, hardwerkend en eerlik. Sy was my beste vriendin,” het Amanda gesê terwyl sy haar trane probeer keer.

“Sy het altyd haar bes gedoen om mense gelukkig te maak, en dit was vir haar ‘n innerlike stryd as sy ooit gevoel het dat sy iemand in die steek gelaat het,” het Gert vertel. “Ons het nie besef watter impak sy op haar gemeenskap gehad het voordat al die boodskappe ingestroom het nie.”

Geskenkies wat Simoné se klas gebring het. Foto: Facebook.

Simoné se familie het gesê dat hul lewens sonder haar pynlik en leeg is, maar hulle is uiters dankbaar vir hul ondersteuningstelsels en sal altyd daar wees vir mekaar, en nou ook vir Juané.

Die nuus van Simoné se afsterwe het daartoe gelei dat boodskappe van simpatie en huldeblyke van haar familie, vriende, kollegas en ander gmeenskapslede ingestroom het. Lees hierdie boodskappe op Laerskool Dr Havenga se Facebook blad hier.

Babakleertjes wat Simoné se klas gebring het. Foto: Facebook.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version