Local newsNews

Helpende Hand help mense om weer te hoor

Senior persone of persone met gehoorgestremdheid wat aansoek wil doen om gehoorapparate deur middel van die #HelpHoor-projek te ontvang, kan 'n epos na mariette@helpendehand.co.za stuur.

Solidariteit Helpende Hand en die Oorinstituut in Pretoria het vandeesweek Wêreld Gehoordag gevier deur hande te vat om gehoorapparate te skenk aan mense wat dit nie kan bekostig nie.

Die geleentheid is gevier met ’n skenking van 30 nuut gedienste, tweedehandse gehoorapparate wat deur die Oorinstituut gedoen is. Die Oorinstituut borg alle toetse wat met die apparate gepaard gaan, asook die passing daarvan. Die skenking sal deur Helpende Hand se #HelpHoor-projek aangewend word om gehoorapparate aan behoeftige mense en bejaardes beskikbaar te stel.

Benette Welman, Helpende Hand se #HelpHoor-projekorganiseerder, het gesê dié gebaar sluit aan by Gehoor vir Almal, die tema van Wêreld Gehoordag wat Woensdag gevier is. “Die #HelpHoor-projek poog om vir seniors en persone met gehoorgestremdhede die gawe van gehoor terug te gee. Dit verbreed weer hul leefwêreld en maak dit vir hulle makliker om aan gesprekke deel te neem. Ons is dankbaar dat die Oorinstituut as ’n netwerkvennoot by ons aansluit om hierdie projek te versterk,” het Benette gesê.

Benette is opgewonde omdat Helpende Hand beplan om hande te vat met die Oorinstituut wat sedert 1975 as ’n gevestigde familiebesigheid funksioneer. Deel van die Oorinstituut se belange sluit in die Eduplex Skool, wat ’n hoofstroom Christen-privaatskool in Queenswood is. Wat Eduplex uniek maak, is die insluiting van ’n paar leerders met gehoorverlies in elke klas waar hulle saam met hul normaal horende vriende, normale spraak aanleer sonder die gebruik van gebaretaal.

Christia Potgieter, Elsha Hermann, Benette Welman en dr Marinda Uys. Foto: Verskaf.

As deel van Eduplex se fokus is die Eduplex Opleidingsinstituut gestig wat reeds in meer as 35 lande wêreldwyd professionele mense en ouers opgelei en toegerus het.

In samewerking met die Eduplex Opleidingsinstituut word bewusmakingsveldtogte beplan om die publiek oor gehoorhigiëne in te lig, asook hoe om gehoorgestremdheid vroegtydig by kinders te identifiseer. Hierdie bewusmakingsveldtog sal ook hand aan hand loop met projekte van Solidariteit Helpende Hand se nasionale tak vir gehoorgestremdheid om bewustheid te kweek ten opsigte van die leefwêreld van persone met gehoorgestremdheid.

“Ons is dankbaar vir elke vennoot wat inkoop in ons #HelpHoor-projek. Benewens die Oorinstituut wat 24 takke landwyd het, is die Pretoriase Instituut vir Gehoor, asook Deon Ceronio in Bloemfontein ook deel van die projek. Oudioloë van die Wes-Rand en Vaaldriehoek wat deel van die #HelpHoor-projek wil word, is welkom om met ons kontak te maak. Stuur ’n epos aan Mariëtte van de Werken by mariette@helpendehand.co.za,” het hy verduidelik.

Dr Marinda Uys, senior oudioloog en hoof van die Eduplex Opleidingsinstituut, het gesê die Oorinstituut is trots om betrokke te wees by Helpende Hand se #HelpHoor-projek, asook die nasionale tak vir gehoorgestremdheid. “Ons wil graag iets aan die gemeenskap teruggee. Gehoor is ‘n gawe waarsonder die lewe verskriklik eensaam kan word. Ons wil mense help om weer te kan hoor sodat hulle aan die aktiwiteite rondom hulle kan deelneem en sosiale interaksie met vriende en familie kan geniet,” het Marinda gesê.

Senior persone of persone met gehoorgestremdheid wat aansoek wil doen om gehoorapparate deur middel van die #HelpHoor-projek te ontvang, kan ‘n epos na mariette@helpendehand.co.za stuur.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button