Witpoortjie-gemeenskap neem afskeid van hul steunpilaar

“Elke persoon wat hom geken het, sal hom altyd onthou vir sy glimlag en hoe hy jou dag op 'n magiese manier kon omkeer.”

Om teen die hartelose dele van die samelewing op te staan, verg dapperheid en ‘n kalmte van liggaam en gees. Die roeping om te beskerm is onbaatsugtig en eerbaar.

Witpoortjie en die Wes-Rand betreur die ontydige heengaan van ‘n onderskatte gemeenskapsteunpilaar. Riaan Smit is tragies dood gedurende die uitvoering van sy pligte, toe hy op Donderdag, 3 Desember op ‘n alarmaktivering by die Bandini-kaasfabriek in Doornkop, Soweto, gereageer het. Riaan was die stigter van die Witpoortjie Community Protection Service (WCPS) en het sy hele volwasse lewe daaraan toegewy om diegene rondom hom te beskerm in sy stryd teen kriminele elemente.

Riaan, wat sy vrou en drie kinders agterlaat, het direk na skool by die polisiemag aangesluit voordat hy in 2000 sy sekuriteitsmaatskappy, WCPS gestig het. Die 51-jarige is in Ontdekkers Hospitaal gebore en het sy skoolloopbaan by Laerskool Dr Havinga begin, en sy matriek by Hoërskool Bastion voltooi. Hy was bekend as ‘n vriendelike siel, eerlike vriend en oplettende luisteraar wat altyd daar was om ‘n skouer aan te bied om op te huil.

Sy seun, Marcel, het ‘n hartroerende huldeblyk aan sy pa geskryf en gesê: “Hy het altyd geglimlag. Elke persoon wat hom geken het, sal hom altyd vir sy glimlag onthou en hoe hy jou dag op ‘n magiese manier kon omkeer. As jy hartseer gevoel het, was hy altyd daar om die dag te help ophelder. Hy het altyd die positiewe en goeie in alles en almal gesien.”

Hy het afgesluit, “Die doel van sy lewe op aarde was om ons almal geduld te leer. In 32 jaar van die huwelik het my ma hom nog nooit kwaad gesien nie. Almal sou wonder of hy die vermoë het om kwaad te word. Hy sou graag wou hê dat ons aanhou om sy nalatenskap uit te leef, om nederig en vriendelik te bly, en om, ongeag die omstandighede, mekaar te bly respekteer en vir mekaar lief te wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version