NewsSchools

Hoërskool Florida kies die beste vir 2021

Die leerders en personeel van die Hoërskool Florida het hul mening gegee en twee voorbeelde van uitnemendheid is verkies.

Bepaalde oomblikke in ‘n mens se hoërskoolloopbaan kan mettertyd vervaag, maar diegene wat hul innerlike potensiaal uitleef, sal daardie herinneringe vir altyd met hulle saamdra.

Die leerders en personeel van die Hoërskool Florida het hul mening gegee en twee voorbeelde van uitnemendheid is verkies. Xanthe Erasmus en Breyton Paulsen, wat deur hul eweknieë gekies is op grond van hul karakter- en leierseienkappe, sal die skool as hoofseun en hoofmeisie in 2021 lei. Albei toon die talente wat nodig is om die dekadelange tradisies van die skool voort te sit.

Breyton droom daarvan om eendag in sy ma se voetspore te volg deur in die mediese bedryf te presteer. Met sy liefde vir die lewenswetenskappe en rugby hoop hy om ‘n plek aan die Universiteit van Stellenbosch te verdien. Hy beskryf homself as iemand wat luister en altyd die behoeftes van ander bo sy eie stel.

Weens die beperkings wat 2020 meegebring het, hoop Xanthe om in 2021 weer na die netbalbaan terug te keer. “Akademie is vir my baie belangrik, maar ek hou baie van sport,” het sy vertel. Aangesien sy baie in menslike bewegingskunde belang stel, beoog sy om biokinetika by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus te gaan studeer. Dit is egter haar begeerte om eers die skool met die styl en grasie van haar voorgangers te lei.

Dit was Xanthe en Breyton se doel sedert Graad 8 om hul skool te lei, en is geïnspireer deur die trots en tradisie van Hoërskool Florida. Hulle het groot lof vir die omgewing wat Hoërskool Florida vir hul leerders geskep het, en Breyton het gesê, “Die onderwysers is inspirerend. Hulle bied altyd ‘n helpende hand en is altyd daar as mens hulp nodig het.”

Die Hoërskool Florida-hoof, Julius Katzke het vir die nuwe hoofleiers goeie raad gegee. “Mag julle met woord, daad en gedagte altyd die voorbeeld stel waar julle ook al beweeg of julself bevind. Mag julle altyd eerste wees as die skool roep en laaste wees as die gereedskap gebêre word, en mag julle elkeen te alle tye ‘n ware ambassadeur van Hoërskool Florida wees. Leierskap is geen posisie of titel nie, dit is aksie en voorbeeld.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button