Local newsNews

Ruimsig-sanger praat oor nuwe enkelsnit

Clemond, wat vir die afgelope drie jaar in Ruimsig saam met sy vrou Cherize en hul een-en-'n-halfjarige seuntjie Noag woon, het vertel dat hy die groep in 2012 gestig het

Die Afrikaanse sanggroep, Wit Kasteel, het onlangs hul nuwe enkelsnit Toegewyd vrygestel, en die hoofsangger, Clemond Dartnall, het met die Northsider hieroor gesels.

Clemond, wat vir die afgelope drie jaar in Ruimsig saam met sy vrou Cherize en hul een-en-‘n-halfjarige seuntjie Noag woon, het vertel dat hy die groep in 2012 gestig het.

“Ek en ‘n vriend, Jurie Schoeman, het die groep saam gestig omdat ek gevoel het dat ek nie in die korporatiewe wêreld inpas nie, en iets anders wou probeer. Nie een van ons kon eintlik kitaar speel nie, maar ons het die instrumente en klanktoerusting gekoop en begin oefen in skoolvriende, Waldemar Behr en Reinhardt Kruger se motorhuis. Hulle het ook by ons aangesluit en in 2017 het Ernst Nieuwoudt as die hoofkitaarspeler by Jurie oorgeneem.”

Die groep bestaan tans uit Clemond (hoofsanger), Reinard (baskitaar), Ernst (hoofkitaar) en Waldemar (tromme).Oor die groep se naam het hy gesê, “Ons is na die ikoniese gebou in Erasmuskloof, Die Spookhuis (Erasmus Kasteel) in Pretoria vernoem. Ons was by Reinhard se huis maar kon nie op ‘n naam besluit nie. Maar, toe ons in sy broer se Volkswagen klim om ‘n draai te gaan ry, het een van ons die kasteelkenteken op die stuurwiel raakgesien. Dit was vir ons ‘n teken en ons het besluit op Wit Kasteel.”

Clemond het gesê dat Toegewyd hul tweede enkelsnit is, “Ons eerste enkelsnit is in 2015 vrygestel en was ‘n unieke rendisie van Laurika Rauch se Nostalgie. Dit was vir vele weke nommer een op GROOTfm en Suid Kaap FM se speellys, en duisende mense het na ons YouTube-video gekyk. Ons het ook ‘n Ghoema-benoeming vir ‘Best Rock Band’ ontvang.”

Kyk hier na die musiekvideo:

 

Hy het vertel dat die groep van verskillende genres hou, wat klassieke old school rock, 80s pop, blues en punk insluit, “Ons het hierdie verskillende style en smake bymekaar gesit en ons groep se eie, unieke musiekstyl is gebore. Ons voel Wit Kasteel gaan ‘n baie diverse album hê wat iets vir elke smaak sal bied.”

Volgens Clemond gaan Toegewyd oor die moeilike tye en struikelblokke waarmee gewone mense sukkel, maar dit gaan ook daaroor om positief te bly en deur te druk, “Bly toegewyd aan jouself, want jy kan dit doen!”

Alhoewel hulle baie opgewonde is om hul nuwe album vry te stel, is daar ‘n paar klippe in hul pad. “Alles hang af wat met die Covid-19 gebeur, maar ons wil ons nuwe album einde Augustus, begin September vrystel.”

Hy het afgesluit deur te sê dat hulle hard besig is om die nuwe album op te neem en dat aanhangers binnekort hul musiekvideo vir Toegewyd sal kan sien.

“Ons wil ook graag ‘n aanlynkonsert hou, en is besig om daaraan te werk om dit te laat realiseer.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

Back to top button