NewsSchools

Kyk: Havies se Graad 7’s keer terug skool toe

"Jou kind gaan jou nou meer as ooit tevore nodig hê. Moedig hulle aan om hard te werk en deur te druk in uitdagende omstandighede."

Laerskool Dr Havinga se Graad 7’s is net ‘n bietjie langer as ‘n week terug by die skool nadat die skool in Maart gesluit is weens die Covid-19 inperking.

Marius Swanepoel, die skoolhoof, het gesê dat dinge tot dusver baie goed verloop het, en het meer oor die skool se veiligheidsmaatreëls en -prosesse vertel.

“Ons skool het ‘n baie deeglike plan opgestel om die verspreiding van die virus te keer. Leerders se temperatuur word geneem, en hulle word gesaniteer voordat hulle op die skoolterrein toegelaat word. Daar is ook ‘n saniteringstonnel wat die leerders vrywillig kan gebruik.

Leerders wag in die ry om die vrae te beantwoord voordat hulle mag klas toe gaan.

Daar word seker gemaak die leerders dra te alle tye hul maskers. Ons het die klasse herverdeel sodat daar aan die sosiale distansiëringsvereistes voldoen kan word, en ons herinner die leerders daagliks aan al die voorkomingsmaatreëls sodat hulle alles in hul vermoë kan doen om hul eie, en hul medeleerders en onderwysers se veiligheid kan verseker,” het hy verduidelik.

Hy het bygevoeg dat die stoepe en hoëgebruiksones daagliks gesaniteer word, die kleedkamers twee-uurliks skoongemaak word en die hele skool maandeliks op voorgeskrewe wyses gesaniteer word.

Elria Lennon, een van die Graad 7-onderwysers.

Volgens Marius het die pandemie ‘n groot impak op elkeen gehad, en hy het gesê, “Dit het baie onsekerheid by baie ouers en kinders veroorsaak. Angstigheid en onsekerheid oor wat voorlê is die grootste bron van kommer. Leerders moes baie vinnig aanpas om steeds skoolwerk te doen met die hulp van rekenaars en opdragte wat die personeel vir hulle stuur.”

Hy het gesê dat skoolgaan tydens die pandemie definitief anders gaan lyk en dat daar baie veranderinge gaan wees, insluitend die manier van klasgee, assesserings, hoe pouses gehou gaan word, asook die manier hoe leerders in verskillende grade gaan skool bywoon.

Graad 7’s stap deur die saniteringstonnel.

Marius se boodskap aan Graad 7’s en hul ouers is, “Moenie bang wees vir verandering en aanpassing nie. Sodra ‘n persoon oop en toeganklik is vir verandering is dit makliker om dit as die nuwe normaal te aanvaar. Ouers, wees betrokke by u kind. Wees ingelig om te kan help met die moeilike vrae rakende verandering.

Jou kind gaan jou nou meer as ooit tevore nodig hê. Moedig hulle aan om hard te werk en deur te druk in uitdagende omstandighede.

“Hy het gesê dat alhoewel hulle baie opgewonde was om die Graad 7’s terug te verwelkom, die res van die leerders nie uitgesluit moet voel nie. “Die onderwysers kan nie wag dat julle moet terugkeer nie. Ons het verlede week ‘n deurrygeleentheid geskep waar die kinders hul boeke en werkopdragte by personeel moes kom haal.

Havie-onderwysers dra hul maskers, gereed vir die skooldag.

Baie van die personeel was hartseer omdat hulle hul leerders net deur’ n motorvenster kon groet. Ons unieke HUB-program wat tuiswerk aan ons leerders verskaf, sorg dat hulle nie agterraak nie. As hulle die werk pligsgetrou voltooi sal die terugkeer vir hulle makliker wees.”

Elria Lennon is die Graad 7’s se Afrikaans- en Lewensoriënteringonderwyser, en het vertel dat sy gedurende die inperking baie tyd saam met haar gesin spandeer het. Terwyl sy elektroniese lesse vir die leerders by die skool voorberei en aangebied het, het sy ook haar eie kinders met hul skoolwerk gehelp.

Sy het bygevoeg dat die inperking haar gedwing het om buite die boks te dink, en het gesê, “Saam met ‘n span kollegas moes ons vinnig leer hoe om die Graad 7’s tuis te bereik en aan te hou onderrig. Tegnologie het ‘n groot rol gespeel en ons moes almal (oud en jonk) by mekaar leer via Zoom en ander platforms.

Graad 7’s op pad klas toe nadat hul hande gesaniteer is.

Dit was ook vir my baie hartseer om te weet dat daar kinders is wat by die huis is en waarmee dit swaar gaan in terme van kos, toesig en liefde. As DPO is dit deel van my werk om daagliks met kinders uit moeilike omstandighede te werk, en hulle te ondersteun waar ek kan. Dit is bekommernisse oor veral hierdie kinders wat my baie meer snags wakker gehou het, nie so seer die kommer oor akademiese tyd wat verlore gaan nie.”

Elria het gesê dat die hele prentjie van hoe jy as onderwyser klas gee in ‘n oogwink verander het. “Ek moes in baie gevalle nuwe lesse en assesserings beplan en gereed kry. Daarmee saam was daar ook bekommernisse oor hoe om myself veilig te hou en my gesin by die huis te beskerm. Daar was hope uitdagings waarvoor ons moes voorberei.”

Graad 7’s op pad na hul klasse op hul eerste dag terug by die skool.

Vir Elria gaan die fokus in die eerste paar weke, veral in Lewensoriëntering, op die Covid-19 pandemie wees en om aan leerders die regte inligting en kennis oor hierdie virus te gee. “Ek fokus hier baie op praktiese dinge wat belangrik is om die leerders veilig te hou, byvoorbeeld die korrekte manier van hande was en saniteer, asook die regte manier om maskers te dra, te hanteer, te was ensovoorts. Leerders se emosionele welstand kry ook hier aandag. Aangesien alle leerders nie toegang het tot sosiale media en ander platforms wat gebruik is om te onderrig nie, moet ons eers weer seker maak dat almal se basislynkennis op dieselfde vlak is en dan kan ons met nuwe inligting daarop voortbou,” het sy gesê.

Sy het met die volgende boodskap aan die Grrad 7’s afgesluit:”Tough times never last, but tough people do. Tel op jou kop, gryp elke dag aan en maak die beste daarvan. Saam kan ons hierdeur kom, sterker as ooit tevore.”

‘ n Graad 7-leerder se hande word gesaniteer sodra hy by die hek inkom. Foto’s: Verskaf.

Kyk hier na die video van hoe die leerders ontvang is:

https://www.facebook.com/534653549951324/videos/246163473487795/

 

Related Articles

Back to top button