NewsSchools

KYK: Bastion-matrieks reg vir die nuwe skooluitdaging

"Hoërskool Bastion het, danksy harde werk deur die Skoolbestuur, terreinpersoneel en die ondersteuning van die Beheerliggaam, die skool tydens die inperking deeglik voorberei vir die terugkeer van die personeel en die Graad 12-leerders".

Maandag, 8 Junie, was ‘n dag van onsekerheid maar ook opwinding vir Hoërskool Bastion se Graad 12-leerders toe hulle vir die eerste keer na drie maande tuis weer kon skool toe gaan, al was dit ook met maskers, saniteerders en die sosiale distansiëringmaatreëls in plek.

Gert Koekemoer, die skoolhoof, het die skool se gereedheidsplan en veiligheidsmaatreëls met die Record gedeel, en gesê, “Hoërskool Bastion het, danksy harde werk deur die Skoolbestuur, terreinpersoneel en die ondersteuning van die Beheerliggaam, die skool tydens die inperking deeglik voorberei vir die terugkeer van die personeel en die Graad 12-leerders”.

Bianca Bloem voltooi die vraelys by die ingangshek.

Hy het bygevoeg dat die leerders se veiligheid ‘n topprioriteit is en het verduidelik, “Voordat die leerders die skoolterrein betree, sal hulle temperatuur geneem en hul hande gesaniteer word. Hulle moet ook ‘n vraelys voltooi. Daar sal op sosiale distansiëring en higiëne gefokus word, alle hoërisiko-areas sal deurlopend gesaniteer word en die hele skool sal ook elke naweek ontsmet word.”

Gert het ‘n spesiale boodskap aan die matrieks en hul ouers, en het gesê, “As hoof is ek opreg trots op elke leerder wat nieteenstaande al die vrese, teruggekeer het met ‘n uitstekende werksetiek en gefokus is op akademiese suksesse. Baie dankie daarvoor en dankie aan elke Graad 12-ouer wat die leerders en die skool so ongelooflik ondersteun.

Matrieks wag in ‘n ry om die skoolterrein te betree.

Baie dankie aan elke ouer wat nieteenstaande ongelooflike uitdagings steeds u kinders ondersteun op hulle pad na volwassenheid. Dankie dat die skool kan staatmaak op u ondersteuning in hierdie moeilike tyd en dankie dat u ons vennote is om u kind/ers se talente te realiseer.”

Die Graad 8- tot 11-leerders en ouers is ook vir hul toegewydheid bedank.

“Ouers kan gerus wees dat die skool deeglik beplan het om u kind te ondersteun. Alle vak- en graadpersoneel het, onder die bekwame leiding van die skoolbestuur, deeglik beplan om u kind te begelei na sukses. As vennote is u rol ongelooflik belangrik en ons nooi ons ouers om met die personeel in verbinding te bly, ook indien u kind akademiese uitdagings ondervind.”

‘n Matriekleerder se temperatuur word geneem voordat hy die skoolterrein mag betree. Foto’s: Adéle Bloem.

Petru van Zyl, die Engels-onderwyser vir die Graad 12’s het van haar ondervinding, visie en missie vir die nuwe manier van skoolgee vertel. Sy het tydens die inperking besig gebly met leeswerk, huishoudelike take, kookeksperimente, en tegnologie-opdatering en -opgradering. In daardie tyd het sy besef dat sy haar manier van onderrig moet verander, en het gesê, “Dit het my gemotiveer om leerders op ‘n ander vlak te bereik, asook om nuwe innoverende maniere van kommunikasie te ondersoek”.

Haar voorbereiding vir die leerders se terugkeer het ingesluit om vas te stel hoe ver die leerders met hul akademie gevorder het, waarmee hulle probleme ondervind, en waar die fokus geplaas moet word sodat hulle gereed sal wees vir die komende eksamen. “Ek het ook seker gemaak my klas is absoluut veilig en leerdervriendelik, sodat almal gemaklik en veilig kan voel,” het Petru gesê.

Sy het met die volgende boodskap aan die matrieks afgesluit: “You are part of history. To everyone out there, you are heroes. Remember, you’ve got this.You will be remembered forever!”

Lynette Jonker,een van die matriekonderwysers.

Lynette Jonker, die Lewenswetenskappe-onderwyser het vertel dat sy probeer besig bly het deur fiks te bly, te bak en brou, te lees, normale dagtake te verrig en winkelsentrums te vermy. Sy het ook aanlynonderrig gegee om te verseker alle leerders op datum kon bly tydens die inperking. Sy het vertel dat sy tydens die inperking geleer het om op verskillende maniere onderrig te gee, en op persoonlike vlak gegroei het.

“Ek kon weer ‘n bietjie introspeksie doen; prioriteite bepaal, soos watter aspekte vir my as mens belangrik behoort te wees; ‘n geestelike vernuwing ondergaan; en weer tyd saam met my familie deurbring. Vir my as ekstrovert was die inperking baie moeilik, want ek is ‘n mense mens.”

Lynette se fokus in die eerste paar weke van skool is om die leerders ten opsigte van Covid-19 te oriënteer en ‘n veilige en geborge omgewing te verseker. “Dit is ook uiters belangrik om die kurrikuluminhoud van Lewenswetenskappe in te skerp.”

Sy het met die volgende boodskap aan die leerders afgesluit: “Hou aan droom. Niks in die lewe wat die moeite werd is, is maklik is nie. Onthou balans, vrede en vreugde is die vrugte van ‘n suksesvolle lewe.”

Engela Boshoff, een van die matriekonderwysers.

Engela Boshoff, die Graad 12 rekeningkunde onderwyser het gesê dat dit vir haar ‘n groot voorreg is om deel te wees van die Bastion-familie. Sy het tydens die inperking haarself voorberei dat daar voortaan net 20 leerders per klas sal wees, en die hele skoolrooster herontwerp. “Ek is bly om te kan sê ons het gewen, en ons en ons leerders gaan heerlik skool.”

Sy het ook deur middel van videolesse, PowerPoint-aanbiedings en WhatsApp-oproepe Rekeningkunde vir die Graad 8’s tot 12’s verduidelik. “Mens werk baie harder, want leerders is so afhanklik van verduidelikings. My foon was onophoudelik aan die werk. Ai, die Graad 12-leerders het so mooi saamgewerk, alles ge-epos of foto’s gestuur, selfs toets geskryf per epos. Ek is so trots op hulle!”

Sy het vertel dat die grootste impak wat die pandemie op haar gehad het, die feit is dat sy na 28 jaar in die onderwys moes leer om aanlyn klas te gee, Google-klaskamers te gebruik en webinare deur Zoom aan te bied. “Ek het gevorder van tegnologies gerem na tegnologies vooruit … ”

Haar fokus in die eerste paar weke gaan beslis wees op die hersiening van die werk wat gedurende die inperkings uitgestuur is. “Ons sal elke afdeling een vir een in detail deurgaan en na elke afdeling sal leerders toets skryf, sodat ons kan bepaal wie steeds ekstra een-tot-een-onderrig nodig het. Vir hierdie leerders gaan daar dan ekstra klasse gereël word om almal voor te berei vir die rekordeksamen.”

Engela se boodskap aan die matrieks is, “Bly kalm en neem een stappie op ‘n slag. Ons is hier vir julle. Saam gaan 2020 steeds die hoogtepunt van jou skoolloopbaan wees, met ‘n blink uitkyk op die toekoms. Doen jou bes, God sal sorg vir die res.”

Kyk hier na die video:

Related Articles

Back to top button