Kruiners gereed vir skoolgaan tydens Covid-19

Elke personeellid moes vier Wêreldgesondheidsorganisasie- (WHO-) kursusse aanlyn voltooi.

“Ek het deur die verlate skoolgeboue geloop en die emosies was ‘n bietjie hoog, want almal weet’ n skool is niks sonder die leerders nie.

My laaste stop was in ons Eersterugbyspan se kleedkamer. Daar het die realiteit ingeskop en het ek geweet dinge gaan nie dié jaar dieselfde in Kruinerland wees nie. Ek bid vir ons land se kinders vir Sy hand se beskerming.”

So het Riaan van der Watt, Laerskool Helderkruin se hoof gesê oor sy eerste besoek aan die skool voordat dit weer vir Graad 7-leerders op Maandag, 8 Junie heropen het.

Die Record het met hom gesels oor die veiligheidsmaatreël wat daargestel is en hoe die leerders se skooldag van nou af gaan verloop.

Hy het verduidelik dat die belangrikste aspek vir die skool is om te verseker dat al die leerders op hul gemak voel in die nuwe normaal, en gesê, “Helderkruin het talle scenarios, moontlikhede en gevare rondom Covid-19 deeglik ondersoek. Ons verseker ouers dat ons alles in ons vermoë sal doen om die leerders se veiligheid te verseker, en ook om hulle as ouers gemaklik te laat voel.

Dit sal ons doen deur alle belangrike inligting met hulle oor die onderskeie sosialemedia-platforms, asook ons Teams-platform te deel.”

Riaan het gesê dat elke leerder (en onderwyser) twee maskers en handsaniteerder ontvang het, en dat die daaglikse roetine nou gekenmerk sal word deur skandering by die hek voordat enige een op die skoolterrein toegelaat sal word.

“Ons het sanitasiestasies op die skoolgronde ingerig, en leerders kan hul eie botteltjies bring om by die skool met saniteerder vol te maak. Daar is ‘n sanitasietonnel, en ons het ook ons eie saniteermasjinerie aangeskaf om te verseker dat ons skool elke dag ontsmet word.Temperatuur word ook gereeld gedurende die skooldag gemeet en aangeteken.”

Hy het bygevoeg dat elke personeellid vier Wêreldgesondheidsorganisasie- (WHO-) kursusse aanlyn moes voltooi, en dat hulle ook ‘n opvoedkundige sielkundige by die skool het om te verseker leerders se angs en vrese kry aandag.

“Elke graadgroep en geslag sal ook opleiding in spesifieke aspekte van higiëne ontvang,” het Riaan gesê.

Om te verseker dat elke leerder se akademie op standaard bly en niemand agter raak nie, het die skool verskeie platforms daargestel sodat veral hoërisikoleerders wat nie kan terugkeer skool toe nie, steeds hul skoolwerk kan doen.

“Ons gaan na die infasering steeds aan met ons aanlynonderrig om te verseker dat ons die hoërisikoleerders tegemoet kom. Ekstra klasse is in plek om leerders wat agter is te help sodat Helderkruin se standaard gehandhaaf kan word.

Die skool se Wi-fi is daagliks vanaf 6vm to 6nm vir ouers beskikbaar om werk en lesse af te laai,” het hy gesê.

Volgens Riaan het die pandemie ‘n impak op alle aspekte van die moderne skoolomgewing gehad.

“Nie net moes daar vinnig nuwe onderrigmetodes ontwikkel en toegepas word nie, maar alle sosiale aktiwiteite is dadelik stopgesit, wat tot die onsekerheid by leerders en personeel aanleiding gegee het. Maar, daar was ook positiewe uitkomste soos om personeel en leerders te dwing om uit hul gemaksones te beweeg om groei te verseker, nuwe kommunikasiemetodes is ontwikkel en die waarde van sosiale interaksie is weer beklemtoon.”

En, om te verseker dat almal floreer in die nuwe normaal van skool gaan, sal ‘n paar dinge verander, en hy het verduidelik, “Onderwysers moes ‘n paradigmaskuif doen en hul uitkyk drasties verander. Die manier van onderrig sal nooit weer dieselfde kan wees nie, en tegnologie speel nou meer as ooit ‘n groot rol. Ons sal beslis meer op higiëne, persoonlike welstand en die sosiale aspekte van menswees moet fokus.”

Sy boodskap aan die Graad 7’s en hul ouers is, “Gebruik elke geleentheid, en wees dankbaar oor alles wat jy het. Wees rustig en weet dat die skool daar is vir al ons kinders.

Geen kind sal net aan sy of haar eie lot oorgelaat word nie. Ons sal saam die omstandighede in ons guns laat tel en Covid-19 oorwin. Geniet wat jy doen en gryp elke geleentheid met albei hande aan.

Moet nie volgens ‘wat as’ lewe nie, maar eerder volgens ‘wat is’. Ons is lief vir die kinders en ons sal altyd hul veiligheid eerste stel. Wees verseker dat ons personeel u as ouer en kind ondersteun. Kruiners is ‘n familie. Ons het nog altyd alles oorwin, en ons sal weer oorwin. Ons sal die kinders oppas en veilig hou.”

Riaan het ook ‘n spesiale boodskap vir die res van skool gehad: “Ons mis al die Kruiner-kabouters op die plaas! Die skool is net’ n gebou en die kinders se gespeel, gelag en vreugde maak van Helderkruin wat dit is, ‘n veilige vesting vir kinders.

Maak seker julle werk hard en hou julle skoolwerk op datum. Vra die onderwysers se hulp in die Teams-klasse. Moet nie jul ouers te moeg maak nie; ons wag vir julle op die plaas”.

Jacques Breet, Graad 7 Lewensoriënteringonderwyser het vertel dat die inperkingstyd vir hom ‘n besige tyd was.

“Ek het my gesin baie beter leer ken; baie geoefen, want ek het ook kos gemaak wat ek nie noodwendig andersins sou gemaak het nie; baie tyd aan akademie spandeer sodat leerders nie agter raak nie; en agtergekom dat dit makliker is om ander kinders te leer as my eie kinders.”

Hy het gesê dat hy tydens hierdie tyd geleer het dat aanpassing deel van die lewe is en dat mens baie meer kan doen as wat jy dink, mits jou kop reg is.

Om te verseker alles is gereed vir die leerders se terugkeer, en dat hul veiligheid verseker kan word, het hy baie vergaderings met personeel, skoolbestuur en die beheerliggaam bygewoon.

Hy het die versekering gegee dat hulle alles in hul vermoë sal doen om toe te sien dat alle leerders op dieselfde akademiese vlak is en geeneen agtergelaat word nie.

“Ons moet seker maak dat hoërisikogevalle geakkommodeer word en dat hul nog steeds hoëkwaliteit-onderrig sal ontvang. Dit gaan vir my ook baie belangrik wees om emosionele bystand aan al die leerders te bied.”Hy het met die volgende boodskap afgesluit:

“Skool moet lekker wees en ons as onderwysers sal uit ons pad gaan om dit vir julle te doen. Kom terug met ?n geruste hart, en gaan vir goud.”

Kyk hier na die video’s:

 

Exit mobile version