NewsSchools

KYK: Roodies se Graad 7’s gereed vir die nuwe normaal

“Die klasse gaan kleiner wees, toegang van leerders word volgens Covid-19-regulasies bepaal”

Dit is ongeveer ‘n week sedert Laerskool Roodekrans hul Graad 7’s by die skool terugverwelkom het nadat hulle amper drie maande lank tuis moes bly ingevolge die nasionale inperking.

Deon Rousseau, die skoolhoof, het oor die skool se gereedheidsplan, asook die veiligheidsmaatreëls gesels wat in plek gestel is om die leerders en onderwysers se veiligheid te verseker.

Laerskool Roodekrans se onderwysers gereed om die bul by die horings te pak.

“Die skool het reeds die afgelope drie weke alle veiligheidsmaatreëls volgens die Departement van Onderwys se riglyne in werking gestel. Saam met die veiligheids- en saniteringstoerusting wat ons van die Departement af ontvang het, kon ons ook ekstra veiligheidstoerusting aanskaf om te verseker ons leerders en personeel is veilig.

Ons het 17 saniteringstasies op die perseel, ‘n handsaniteringstasie met papierhanddoekhouers, aparte asblikke asook vier saniteringstonnels by vier toegangshekke by die skool geplaas. Ons het ook ‘n isolasiekamer ingerig. Leerders en personeel dra te alle tye maskers.

Daar is duidelike Covid-19-regulasies oral in die skool aangebring wat vir leerders verduidelik dat hulle maskers moet dra en sosiale distansiëring moet toepas.”

Keegan Cooper, Deon Rousseau en Justice Lentsela. Foto’s: Verskaf.

Deon het bygevoeg dat die pandemie ‘n groot impak op die skool het, en hy het gesê, “Dit het die bestuur van die skool gedwing om buite die boks te dink, sodat ons steeds met die tegnologie wat personeel by hul huise het, topgehalte onderrig vir ons leerders deur middel van YouTube, Awsum, D6 en die skool se webblad kon bied.”

Hy het gesê dat dinge by die skool wel anders gedoen gaan word, en het verduidelik, “Die klasse gaan kleiner wees, toegang van leerders word volgens Covid-19-regulasies bepaal, badkamerroetines en speelgronde is aangepas volgens alle regulasies, en leerders het ook op die eerste dag van skool volledige riglyne en opleiding ontvang”.

Kariesa Botha en Dean Alberts van Absolut Security.

Hy het ‘n spesiale boodskap vir die Graad 7’s en hul ouers: “Die Graad 7-leerders het die voorreg om geskiedenis te maak. Julle moet mekaar se gesondheid respekteer, gefokus wees om die akademiese jaar te voltooi en dit steeds te geniet, en deel van jul ervaringsveld te maak.

Ons wil ook graag die ouers verseker dat ons alles in ons vermoë gedoen het om die veiligheidsmaatreëls in plek te kry sodat die leerders se basiese veiligheid topprioriteit sal wees. Die Graad 7-personeel gaan wissel na die onderskeie klasse om onnodige beweging te beperk, sodat hulle veilig kan voel en die skool die nodige rustigheid in ouers en leerders se harte kan bewerk.”

Vir die res van die grade het hy die volgende boodskap: “Ek loof die kinders wat harde en getroue werk gedoen het tydens die inperkingstyd en is baie trots op julle. Ons kan ook nie wag om julle by die skool te ontvang nie. Die skool is ‘n leë plek sonder ons leerders en ons het alles in plek gekry om julle ook weer by die skool te sien.

Gaan asseblief aan met julle harde werk wat op die akademiese platforms geplaas is. Ek wil ook graag die ouers bedank vir hul ondersteuning en die mooi en ondersteunende boodskappe gedurende hierdie moeilike en vreemde tyd. Ons waardeer alle Roodie-ouers se ongelooflike ondersteuning.

Ons is so trots op al ons Roodie-ouers, julle maak dit moontlik vir ons om as skool ‘n nuwe, suksesvolle era in ons almal se lewens te betree. Die opoffering, positiwiteit en omgee wys net weereens dat ons ‘n gemeenskap en ‘n Roodie-familie is met personeel, ouers en kinders wat met uitstrewendheid kan saamwerk in die belang van ons kinders.”

Volgens Deon was die grootste impak wat die pandemie en inperking gehad het, die feit dat leerders se roetines onderbreek is, en hy het gesê, “Kinders is sosiale wesens wat nie sosiaal kon verkeer nie. Die leerders kon nie deelneem aan enige buitemuurse aktiwiteite nie. Die feit dat ouers hulle moes bystaan met hul akademie, wat vir die ouers dalk ‘n uitdaging was om’ n ouer en onderwyser gelyktydig te wees, was nie altyd maklik nie, maar baie positiewe kommentaar is van ouers ontvang. Meer gesinstyd en hegter bande in die gesinne is gesmee.”

Suzanne Fourie, die Departementshoof: Intermediêre- en Senior fase, wat ook Wiskunde vir die Graad 7’s aanbied, het vertel dat sy die inperkingstyd gebruik het om saam met die skool se bestuurspan aan nuwe, innoverende en werkbare onderrigmetodes te dink. “Ek het vinnig aan die nuwe stelsel gewoond geraak.

As departementshoof en Graad 7-onderwyseres moes ek my voorbereiding so aanpas dat ek deur middel van sosiale media en tegnologie steeds die leerders op ‘n suksesvolle manier kon onderrig, asook die personeel in my department die nodige leiding kon gee en hulle werk noukeurig modereer.

Ek het ure aaneen agter my rekenaar spandeer om my lesse op ‘n kreatiewe manier voor te berei, sodat dit sinvol vir my leerders was,” het sy gesê.

Die impak van die pandemie was groot en sy het gesê dat dit vir haar moeilik was om grense vir persoonlike gesinstyd en werkstyd te stel as gevolg van haar werkslading.

“Ek hou glad nie daarvan om onseker en uit my gemaksone te wees en in die donker rond te tas nie. Ek het die sosiale interaksie met die leerders en kollegas gemis. Aan die positiewe kant kon ek dieptenavorsing in my vakgebied doen en my tegnologiese vaardighede het met rasse skrede verbeter. Ek voel werklik verryk op daardie gebied.”

Om te verseker dat sy gereed was om die leerders by die skool terug te verwelkom het sy gesorg dat sy op hoogte is van al die Covid-19-regulasies asook die onderrigsisteme wat in plek moet wees.

“Verder het ek met die hulp van die Graad 7- onderwysers en ons hoof vir die laaste 10 dae voor hulle sou teruggaan skool toe, ‘n countdown op ons sosialemedia-platforms geplaas. Ek het toe op’ n tema vir die Graad 7-leerders se terugkeer skool toe besluit, naamlik, ‘Pak die bul by die horings’ en die personeel was dadelik aan boord. Ek het, met die hulp van die Graad 7-personeel, daaglikse video’s saamgestel om die hekke uit te wys waar daar by die verskillende klasse in- en uitgegaan moet word,” het Suzanne gesê.

Sy het bygevoeg dat sy vir die eerste paar weke nadat die leerders teruggekeer het, daarop sal fokus om te verseker dat die leerders almal op standaard is voordat die nuwe, aangepaste kurrikulum gevolg sal word.

Suzanne het met die volgende boodskap afgesluit: “Jou toekoms word bepaal deur jou aanpasbaarheid, ‘n leerbare gees en volkome vertroue in ons Skepper te hê” .

Sien videos hier:

https://www.facebook.com/LaerskoolRoodekrans/videos/627559121490591/

https://www.facebook.com/LaerskoolRoodekrans/videos/3092983637462790/

Related Articles

Back to top button