Inperking keer nie Laerskool Roodekrans nie

Die Roodie-personeel het 'n ongelooflike totaal van 1 262 werkkaarte en videolesse met 'n gemiddeld van 164 aanbiedings en studiemateriaal opgelewer

Laerskool Roodekrans se innoverende personeel, onder leiding van skoolhoof Deon Rousseau, het met groot entoesiasme die Roodies van Graad RR tot Graad 7 tydens die inperkingstydperk produktief aan die werk gehou.

Roodies het benewens die bestaande akademiese platforms, wat die skool se webblad en die twee slimfoontoepassings (Awsum en D6) behels, die groot stap geneem en hul eie YouTube-kanaal geskep wat reeds 1 000 intekenaars het.

Die leerders van Laerskool Roodekrans het van 16 tot 20 Maart en weer van 31 Maart tot 3 April breinfiks en ingeskerp gebly met hersienings- en inoefeningswerkkaarte.

Op 6 April het Roodies afgeskop met Kwartaal 2 se werk, wat weekliks aangebied is deur video-opnames, asook werkkaarte en memorandums.

Aan die einde van die week van 29 Mei sal die Roodies 831 werkkaarte en memorandums, asook 431 videolesse deur middel van die akademiese platforms ontvang het.

Die Roodie-personeel het ‘n ongelooflike totaal van 1 262 werkkaarte en videolesse met ‘n gemiddeld van 164 aanbiedings en studiemateriaal opgelewer.

Nog ‘n hoogtepunt waarop Laerskool Roodekrans baie trots en opgewonde is, is die feit dat Roodies op Woensdag, 20 Mei hul eerste virtuele opedag vir alle nuwe en voornemende Roodies op die skool se sosialemedia-platforms aangebied het.

Die Roodie-personeel sien met groot opgewondenheid daarna uit om die Graad 7-leerders op Maandag, 1 Junie terug te verwelkom by die skool. Alle voorsorgmaatreëls is reeds in plek gestel om leerders en personeel se gesondheid sover moontlik te verseker.

Deon het die beheerliggaam, elke personeellid, leerder en in besonder die ouers bedank en gesê, “Ten spyte van hulle eie uitdagings, wat gepaard gegaan het met die inperking, het hulle gesorg dat die Roodie-familie as ‘n hegte familie op alle gebiede kon saamstaan. Die Roodie-omgeeharte stap geduldig sáám, maar tog baie opgewonde om die onbekende nuwe pad van Covid19-inperking te betree.”

Exit mobile version