NewsSchools

Havies se nuwe hoof is slaggereed

Marius se onderwysloopbaan het in 1998 as onderwyser by Hoërskool Noordheuwel begin

 

Die 44-jarige Marius Swanepoel is onlangs as die nuwe hoof van Laerskool Dr Havinga aangestel, ‘n taak wat hy gereed is om met groot entoesiasme aan te pak.

Alhoewel hy baie opgewonde is oor sy aanstelling, glo hy dat hy groot skoene het om vol te staan, en het gesê, “Om by ‘n persoon soos mnr Leon Visser oor te neem is nie ‘n taak wat ligtelik opgeneem kan word nie. Hy was regtig baie dinamies en visioenêr in sy leierskap, en was ‘n geliefde persoon in die gemeenskap. Ek vertrou dat ek, met die hulp en ondersteuning van die gemeenskap, ouers en onderwysers, wél hierdie taak suksesvol sal kan aanpak.”

Marius se onderwysloopbaan het in 1998 as onderwyser by Hoërskool Noordheuwel begin. Daarna het hy ‘n departementshoofpos by Hoërskool Linden beklee, weer ‘n draai by Hoërskool Noordheuwel gemaak, en tot voor sy aanstelling as Havie-hoof, diens gedoen as Adjunkhoof by Laerskool Roodekrans.

Hy het vertel dat hy baie bly en trots was toe hy die oproep ontvang het dat hy die nuwe hoof is. “Dit is iets waarvoor ‘n mens jou voorberei, maar tog wonder jy of en wanneer die oproep sal kom. Ek voel dit is die pad wat die Here vir my voorberei het en waar Hy my wil hê.”

Hy het bygevoeg dat sy aanstelling in ‘n baie uitdagende tyd gekom het, aangesien dit in die middel van die Covid-19 pandemie was. ”Dit is uitdagend maar ook baie opwindend. Om ‘n skool vanaf jou huis met ‘n rekenaar en selfoon te bestuur, is seker nie hoe ek die aanstelling verwag het nie maar ‘n mens pas aan en beplan. Uitstekende personeel en ‘n dinamiese bestuurspan maak dinge natuurlik baie makliker; ons personeel is net fantasties! Ons het begin met ‘n unieke tuisonderrigprogram wat ons die HUB- (Havie Uitblinkers-) program noem. Ons moes ons omstandighede beoordeel en die beste moontlike plan saamstel wat in ons gemeenskap sal werk. Ek kan jou belowe dat al ons leerders tans besig is met skoolwerk by hul huise, en wanneer die skool begin, sal hulle op ‘n uitstekende akademiese vlak wees. Dit is alles te danke aan ons puik personeel wat so hard werk.”

Video’s met boodskap van Marius aan gemeenskap: https://www.facebook.com/534653549951324/videos/553939078565262/

https://www.facebook.com/534653549951324/videos/1598323986987552/

Marius se visie en missie vir Laerskool Dr Havinga is om te verseker dat dit die skool op almal se lippe sal bly, en om dit die skool te maak wat almal se eerste keuse sal wees. ”Die Havies moet ‘n veilige vesting vir elke leerder wees. Ons moet uiteindelik uitstekende leerders hoërskool toe stuur wat selfstandige en doelgerigte grootmense kan word. Die kinders moet elke dag ‘n avontuur by die skool verwag!” het hy opgewonde vertel.

En, hoewel hy glo dat mens nie aan ‘n wenresep verander nie, is daar wel een of twee veranderinge wat die gemeenskap kan verwag. ”Ek en die bestuur van die skool sal die huidige suksesse beoordeel en verbeter waar ons kan. Ons het klaar begin met iets klein wat ‘n groot impak op die gemeenskap gaan hê, met die oorneem van Karlien en Kandas. Ons beplan groot dinge daar, maar dit is tans al wat ek uit die mou kan laat,” het hy verduidelik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button