Local newsNews

‘n Guinness-rekord op ‘n trapmeul!

Morné is in 2017 aangewys as die eerste mens wat 31 agtereenvolgende maratons (42,2km) in 31 dae op ‘n trapmeul voltooi het.

“Ek is nie ‘n goeie atleet nie, net ‘n gewone ou wat hou van hardloop.” So het Morné Basson gesê wat sy talente reeds by verskeie geleenthede op die trapmeul ten toon gestel het.

Verlede jaar het hy geskiedenis gemaak toe hy ‘n halfmaraton van 21,1km binne 72 agtereenvolgende dae by verskeie Planet Fitness Gimnasiums op die trapmeul voltooi het, en as die nuwe Guinness Wêreldrekordhouer aangewys is.

“Ek was ‘n kranige rugbyspeler op skool en het in 1997 aan padwedlope begin deelneem. ‘n Goeie, gesonde en gebalanseerde leefstyl is nog altyd deel van my mondering,” het hy verduidelik.

Sy afwesigheid tydens die 2015 Comrades-wedloop het hom nie gekeer om tydens ‘n bootreis in Alaska die 90km op ‘n trapmeul af te lê nie. “Ek het op dieselfde dag as die regte wedloop die 90km op die luukse skip in Alaska gehardloop omdat ek nie self daar kon wees nie,” het hy bygevoeg.

Morné is in 2017 aangewys as die eerste mens wat 31 agtereenvolgende maratons (42,2km) in 31 dae op ‘n trapmeul voltooi het.

“Die goed wat ek aanpak is egter ongelooflik uitdagend – nie so seer op die liggaam nie, maar in die kop. Die psigiese kant daarvan is uitdagend en ek het ‘n ongelooflike sterk wilskrag. Ek kan niks doen sonder die krag en genade van God nie,” het hy genoem.

Tydens die nasionale inperkingstyd het hy sy 72-dae uitdaging ‘n stap verder geneem. “Ek het besluit om ‘n 72km-uitdaging vir myself te stel, met nuwe reëls. Die plan was om presies 72km te stap teen dieselfde pas van 6km per uur, en om ook nie een keer te stop of af te klim nie,” het hy verduidelik.

Hy het vertel dat die uitdaging hom 12 uur geneem het, en die doel daarvan was om bewustheid te skep van veral vroue en kinders wat daagliks in ‘n ongelukkige situasie vasgevang is, en sukkel om daaruit te ontsnap.

Morné Basson. Foto: Verskaf.

“Daar is verskeie oorsake daarvan, soos verkragting, geweld, kinders wat geboelie word en vele meer. Dit is ‘n lang en eensame pad – een wat hulle meestal alleen stap. My gebaar was dus simbolies. Wat baie uitdagend was, is die feit dat ek alleen tuis is. Ek het egter die volle 72km lewend op Facebook geplaas, asook op die sosiale mediaprogram, Zoom,” het hy vertel.

Hy werk tans hard om sy volgende 72-dae uitdaging te bereik. “Ek gaan weer vir 72 dae elke dag iets ‘mal’ aanpak. Hierdie keer gaan ek elke dag 72km op ‘n spinfiets by Planet Fitness Klubs ten bate van The Character Company ry,” het hy gesê.

Sy uitdagings kan gevolg word op sy Facebook-blad.

“Hoewel ons nie elke dag almal kan help nie, kan ons elke dag iemand help. So dra ek my deel by,” het hy afgesluit.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button