Jacobsze vier vyf dekades van liefde in oorvloed

Hulle is steeds onbeskryflik lief vir mekaar en ‘n voorbeeld vir hul drie dogters, vyf kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Drienie en Jan Jacobsz het mekaar in 1962 by die Onderwyskollege in Pretoria ontmoet. Die egpaar vier vanjaar hulle 54ste huweliksherdenking nadat hulle op 2 April 1966 in Middelburg trou aan mekaar belowe het.

Jan was die sportverteenwoordiger op die Studenteraad, en het tydens die Interkollege-swemgala en duikkompetisie sy droomvrou, Drienie raakgesien.

Jan was ‘n provinsiale swemmer en Drieníe was uitstekend in duik en swem. Hy het daardie dag vir een van sy maats gesê, “Sien jy daardie meisie met die mooi bene? Dit is my troumeisie. Ek gaan eendag met háár trou.”

Drienie en Jannie Jacobsz. Foto: Verskaf.

Hy het nie gras onder sy voete laat groei nie en het haar graag kort-kort bederf met selfgemaakte blommeruikers.

Jan en Drienie se liefde vir mekaar vermenigvuldig elke jaar. Hulle het vertel dat selfs toe sy hom per ongeluk met ‘n Coke-bottel op sy hak getref het en hy nie tydens die studentesokkie met haar kon dans nie, was hy steeds meer as beenaf oor haar.

Hulle het hul groot liefde vir sport al die jare met mekaar gedeel. Drienie was ‘n Suid-Afrikaanse korfbalskeidsregter asook ‘n provinsiale speler, en Jan het jare gelede as die president van korfbal, die Springbok-mannespan afgerig.

Hulle het albei diep spore in die onderwys getrap en het werklik ‘n verskil in verskeie onderwysers, leerders en ouers se lewens gemaak.

Drienie het na 41 jaar in die onderwys as ‘n Meriete 3 Engels-onderwyser vir matrieks afgetree.

Jan is ‘n gebore onderwyser en het stelselmatig gevorder na departementshoof, adjunkhoof en toe hoof. In 1989 het die gesin Roodepoort toe verhuis waar hy kringinspekteur was. Hy het ‘n volle 50 jaar van sy lewe aan onderrig en opvoeding gewy.

Hulle is steeds onbeskryflik lief vir mekaar en ‘n groot voorbeeld vir hul drie dogters, vyf kleinkinders en drie agterkleinkinders.

Op onderskeidelik 77 en 78 jaar oud deel hulle steeds hul liefde vir sport en speel saam rolbal. Hulle het die volgende raad vir getroudes: “Vertrou mekaar en hê mekaar onvoorwaardelik lief. Wees geduldig, kommunikeer en erken as jy ‘n fout gemaak het.”

Exit mobile version