Florrie-juffrou laat diep spore in die gemeenskap

Vir nagenoeg 40 jaar het sy 'n groot rol in leerders se lewens gespeel.

Laerskool Florida het met ‘n swaar hart afskeid geneem van juffrou Helena Breytenbach wat op 1 Maart haar stryd teen kanker verloor het.

Sy was nie net bekend vir haar rustige geaardheid en vreugdevolle gees nie, maar ook vir haar bekende wit Volkswagen waarmee sy die strate van Florida platgery het.

Enigiemand wat die geleentheid gehad het om die pragjuffrou te ontmoet, het haar beskryf as ‘n persoon wat haar lewe aan haar familie, leerders en vriende toegewy het.

Tydens ‘n besoek by die Florrie-gesin kon mens die diep spore wat sy getrap het, onmiddellik sien. Onderwysers het vertel hoe Helena vir hulle, hul kinders, en familielede skoolgegee het. Sy het vir ongeveer 40 jaar ‘n groot rol in leerders se lewens gespeel. Die saggeaarde juffrou was bekend vir haar pienkpilletjielekkers waarmee sy die leerders bederf en omgekoop het. “Sy het elkeen se lewe, en die uitkyk van almal wat haar ontmoet het verander. Sy was ‘n uitstekende onderwyseres wat ‘n baie groot indruk gemaak het waar sy ook al gegaan het. Sy sal vir altyd in ons harte bly,” het die Florrie-familie vertel.

Van haar kollegas en oudleerders het vertel dat dissipline ‘n baie groot rol in Helena se klaskamer en onderwysloopbaan gespeel het. Sy het ‘n spesiale klip, genaamd Ore, gehad wat sy op leerders se skoolbanke gesit het wat nie die reëls nagekom het nie. “Juffrou Helena het ‘n hart van goud gehad. Sy het altyd daardie ekstra myl geloop om elke leerder en kennis spesiaal te laat voel,” het Jeanice Botha gesê.

Die juffrou wat altyd ‘n vertrek met haar breë glimlag en grappies opgehelder het, sal vir altyd as ‘n legendariese Florrie-onderwyser beskou word.

Na die hartseer nuus bekendgemaak is, het Laerskool Florida se Facebook-blad gegons van al die boodskappe van gemeenskapslede, wat boekdele gespreek het van die impak wat hierdie onderwyser op almal se lewens gehad het:

Monja van der Westhuizen: Een van die beste onderwyseresse ooit. Groot verskil in my kind se lewe gemaak. RIV Juff Helena, het nog nooit van jou vergeet nie. Innige simpatie en meegevoel aan haar gesin.

Piet Filmalter: Sy was awesome met ‘n baie sagte siel. Ek onthou haar Volkswagen Beatle en die keer toe ons ons troeteldiere een dag skool toe kon bring. Sy’t die moeite gedoen om baie mooi en met omgee vir my te verduidelik dat ek nie my Doberman skool toe kon bring nie. Daar is baie, baie min mense soos sy op hierdie aarde. Dit was ‘n voorreg.

Rencea Tredoux: Juffrou Breytenbach, die juffrou met die ou kassetspeler wat stories speel, die pienk lekkers, die briefies waarvan ek nou nog veilig bêre in ‘n belangrike tassie, die lugballon wat moes styg as jy ‘n sekere hoeveelheid boekies gelees het. Gaan haar beslis mis. Sy het ‘n verskil gemaak in kiddies se lewe. Beslis ‘n verskil in my lewe gemaak.

Karen du Buisson: Dit is ‘n hartseer dag vir ons as gemeenskap en elke oud-Florrie wat deur juffrou Helena se hande gegaan het. Sy het beslis gestalte aan ons elkeen se menswees op verskeie dimensies gegee. Altyd in elke gesiggie voor haar geglo en sodoende die selfgeloofvlammetjie in party outjies se lewens aangesteek. Dankie vir elke diep spoor wat juffrou in ons en ons kinders se lewens getrap het. Rus sag.

Marlize Meyer: RIV… Beslis ‘n vrou wat haar roeping ter harte geneem het. Sy was ‘n juffrou wat omgegee het vir elke kind wat oor haar pad gekom het. Elke vakansie vir elke kind ‘n handgeskrewe briefie gepos. Elke week opbeurende en motiverende stukkies gestuur vir die week wat voorlê. Pragtige vrou tot die einde

Onderwyseres, Jeanice Botha vertel meer oor die saggeaarde juffrou: 

Exit mobile version