Kruiners se hoof sluit hoofstuk af

In die tydperk as Kruiner-hoof was sy doel om die skool te omskep in een wat as 'n 'ons'-skool beskou sou kon word.

Na 38 jaar in die ouderwysberoep sluit Laerskool Helderkruin se skoolhoof, Chris Schutte, sy loopbaan aan die einde van die jaar met ‘n trotse hart af.

Chris, wat voorheen die hoof van Laerskool Theo Wassenaar was, het in 2010 sy reis as hoof saam met Laerskool Helderkruin begin. “Die tyd het reg gevoel vir ‘n skuif, en dit was inderdaad ‘n goeie skuif,” het hy met ‘n glimlag gesê.

Hy het sy opleiding by Goudstad Onderwyskollege (volgens hom die sterkste opleiding) voltooi en sy graad in Opvoedkunde behaal. Hy word beskou as ‘n steunpilaar en leier vir die Kruiners. “Die doel van ‘n hoof is om ‘n leier van die orkes te wees, maar dis ‘n spanpoging. Alles wat ons doen, doen ons in die beste belang van ons leerders.”

In die tydperk as Kruiner-hoof was sy doel om die skool te omskep in een wat as ‘n ‘ons’-skool beskou sou kon word, en het verduidelik, “Toe ek begin het as hoof was die eerste verandering wat ek aangebring het, in ons nuusbriewe. In die brief is elke ‘ek’ verander na ‘ons’, want hier doen ons alles as ‘n span.”

Die ‘ons’-skool het van krag tot krag gegaan en daar kon ‘n groot verskil gesien word in hul fasiliteite, sowel as onderwyser- en leerdergetalle. “Ons het met 52 personeelllede begin en het tans 82. Ons leerdergetalle het van 816 tot 1 200 gegroei. Ons het sterker geword, en alhoewel die groeiproses party dae maar moeilik was, het ons met die genade van Bo sterker anderkant uitgekom,” het Chris vertel.

Met die nuwe generasie wat hul plek in die wêreld vind, en die generasiegaping, het Chris laat besluit dat die regte tyd aangebreek het om die tuig neer te lê. “Ek sal altyd die generasies se taalverskil onthou. Ek onthou hoe ek toesig moes hou in die een klas terwyl hulle besig was met ‘n toets. Toe ek vir die leerders gesê het, ‘haas julle langsaam’ het die een dogter met groot oë na my gestaar en gesê, ‘maar meneer praat snaakse Afrikaans’,” het hy laggend vertel.

Maar, al sluit Chris nou sy finale hoofstuk af, het hy tog nog ‘n boodskap wat hy wil oordra: “Baie dankie vir die sterk beheerliggaam wat gehelp het met die bestuur van die skool. Dankie aan almal wat ‘n rol speel en gespeel het saam met my in die onderwys. Vir my is dit ‘n groot reis vorentoe, siende dat my vrou ook vanjaar na 39 jaar in die onderwys aftree. Vir al die personeel, ouers en borge wat in die tydperk gehelp het, wil ek ook dankie sê. Kruiners, ek wens julle alle seën en voorspoed toe vir die toekoms. Mag julle nog vir baie jare julle hoogste hoogtes bereik. Watter voorreg was dit om by die skool te kon wees. Daar is soveel goeie herinneringe by al die skole wat ek vir altyd saam met my sal neem. Lank lewe die Kruiner!” het hy afgesluit.

Kyk videos hier:  https://www.facebook.com/groups/laerskoolhelderkruin/permalink/2615332191860588/

https://www.facebook.com/groups/laerskoolhelderkruin/permalink/2615332191860588/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version