Skrywer stel ‘n lewe van fanatisme bekend

Blake se nuwe skryfstuk handel oor die enigmatiese historiese figuur en wat sy fanatisme aangevuur het.

 

Op 10 Oktober het die talentvolle skrywer, Albert Blake, sy nuwe boek by Hoërskool Florida bekend gestel.

Albert, die skrywer van die suksesvolle Boereverraaier; Boerekryger (waarmee hy die Louis Hiemstra-prys gewen het); Moord en Roof; Ontsnap; Broedertwis; en Wit Terroriste, het sy nuutste boek, Robey Leibbrandt: ‘n Lewe van fanatisme, aan die gehoor bekend gestel. Almal het op die punte van hul sitplekke gesit terwyl Pieter du Toit, wat langs Albert gesit het, dele uit die boek voorgelees het.

Albert Blake met ‘n geraamde foto van die voorblad van sy nuwe boek, Robey Leibbrandt. Foto: Halisje Crous.

Die boek handel oor die enigmatiese historiese figuur en wat sy fanatisme aangevuur het. Dit vertel van ‘n seevaart in ‘n klein seiljag van Frankryk af tot aan die Namakwalandse kus gedurende die Tweede Wêreldoorlog, sabotasiepogings, en planne om Eerste Minister Jan Smuts in ‘n sluipmoordaanval om die lewe te bring.

In die vroeë 1940’s is die Suid-Afrikaanse publiek aangegryp deur die uitdagende optrede van die Olimpiese bokser en swaargewigkampioen Robey Leibbrandt. Hy was dodelik gekant teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog, en sy ekstremisme, opvlieëndheid en onverdraagsaamheid was tipies van ‘n politieke fanatikus.

Leibbrandt het ‘n aanhanger van Nasionaal-Sosialisme geword toe hy Suid-Afrika in 1936 by die Olimpiese Spele in Berlyn verteenwoordig het. Hy het kort daarna as ‘n vrywilliger by die Duitse Wehrmach aangesluit.

Die Duitse militêre intelligensiediens het hom kort daarna gewerf om sabotasieopleiding te ontvang, en het vir Leibbrandt teruggestuur Suid-Afrika toe as deel van Operasie Weissdorn. Sy missie was om die militante faksie van die Afrikaner-opposisie te werf en met hulle hulp skeeps- en haweinstallasies, asook nywerhede, te vernietig, en om oproer onder die Uniemagte te stook.

Dit was nie lank nie of die polisie was op Leibbrandt se spoor. Hy is na een van die grootste polisiesoektogte in Pretoria in hegtenis geneem. Sy hoogverraadsaak in 1943 en 1944 het hoofopskrifte gehaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version