Blou-bloed-Havie skoolhoof sluit hoofstuk af

"Ek is bevoorreg om altyd saam met my meerkatfamilie te kon werk, en ons sukses saam te vier."

 

Die geliefde skoolhoof van Laerskool Dr Havinga, Leon Visser, het vanjaar die hartseer besluit geneem om sy Havie-famile aan die einde van die jaar te groet.

Leon, wat al 28 jaar lank ‘n pad saam met die Havies stap, en vir 15 jaar as hulle skoolhoof gedien het, sluit sy loopbaan by Havies af om ‘n nuwe avontuur aan te pak – aftrede. “Die lewe is soos seisoene, en myne het gekom. Dis tyd dat ek vir myself lewe en me time het, om my belangstellings na te streef en nuwe stokperdjies te vind. Ek het dit al uitgestel, maar vanjaar het ek besluit om aan die einde van die jaar my aftrede in te stap. Daar is ‘n gesegde wat ek altyd onthou: Leef die lewe op die dae wat jy het, en moet nie hoop op die dae wat jy nie gehad het nie’,” het Leon gesê.

Van dag een af was sy doelwit om ‘n mooi, goed toegeruste skool te help vorm, wat elke kind as ‘n tweede huis kon beskou; ‘n skool met goeie waardes en goeie vaardighede was iets wat hy wou nalaat sodat kinders reg voorberei kon word op ‘n goeie toekoms en suksesvolle loopbaan.

“Toe ek die hoof geword het, het ek die slagspreuk ‘Die skool op almal se lippe’ ingebring omdat my Havie-familie baie potensiaal het, en dat ons altyd die beste sal doen met wat ons het. Dit was en is nie die gebou wat Havies maak nie, dit is die mense in die gebou wat Havies maak wat hy vandag is, want almal speel ‘n rol in ons sukses. Ek beskou die embleem van die kers as die lig wat altyd op ons sal skyn, en dat ons die ligdraers is in ons geloof. Ek hoop dat Havies nog lank ‘n ligdraer in die gemeenskap sal wees.”

Vir hom is spanwerk die eerste bousteen tot sukses. “Ek is wat ek is as gevolg van die mense rondom my. Ek was bevoorreg om altyd saam met my meerkatfamilie te kon werk, en ons sukses saam te vier.”

Iets wat nog jare lank in sy gedagte ingeprent sal wees, is die kaskardae wat elke jaar gehou is, veral die dag toe hy as 60-jarige die kaskarwedren kon aanpak.

Hy sal egter nie net die goeie onthou nie. “Mens sal altyd die goeie en hartseerdae saam met jou dra. Dit is na 28 jaar moeilik om net een oomblik uit te sonder. Daar was dae toe ons saam gevier en pret gehad het, en dae toe ons saam gehuil het. ‘n Dag wat nog altyd vir my uitstaan, was die fondsinsameling vir een van ons leerders wat kanker gehad het. Die gemeenskap het gekom om donasie in ‘n emmer te plaas; om daardie omgee te kon beleef, was asemrowend.”

Dit is vir die meerkatfamilie se leier ‘n hartseeroomblik om te groet, maar soos hy sê, “Daar is ‘n tyd vir hallo en dan is daar die tyd vir goodbye”.

Hier is Leon se afskeidsboodskap aan sy Havie-familie: “Dit is vir my baie hartseer om my mense te groet. Ek was baie bevoorreg om so lank by die skool betrokke te wees, om te sien hoe dit van toeka tot nou ontwikkel het. Hier is baie dinge wat ek vir altyd saam met my sal neem en onthou. Dit het baie vir my beteken om deel te wees van die span en ‘n verskil in die kinders se lewens kon maak, en vir hulle te kon skool gee. My boodskap aan die kinders is dat hulle nie moet ophou droom nie. Hulle moet droom om eendag self ‘n held vir kinders te wees. My wens vir die skool is dat julle altyd die pad van die lewe met uitnemendheid sal stap, en mag die Havies se lig altyd skyn. Ek is, was, en sal altyd ‘n trotse bloubloed-Havie wees.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version