Bastion-hoof gee duidelikheid oor Twinning-projek

Hoërskool Bastion se skoolhoof, Gert Koekemoer, gee meer duidelikheid oor die Twinning-projek aan die ouers en gemeenskap.

 

Na die aankondiging van die Twinning-projek tussen Hoërskool Bastion en Madiba Secondary School, was daar heelwat onduidelikheid en onsekerheid by ouers en gemeenskapslede.

Een van die belangrikste vrae wat gevra word, is: “Gaan Hoërskool Bastion se naam en taalbeleid verander?”

Die Record het met die hoof van Hoërskool Bastion, Gert Koekemoer gaan gesels, en hy het die boustene wat hierdie projek verduidelik.

Read the initial article here:

Twinning schools officially announced for the future

“Ouers en die gemeenskap moet verstaan dat die skole nie een skool word soos wanneer daar ‘n samesmelting plaasvind nie. Ons vat bloot hande en stap ‘n pad saam terwyl elke skool sy eie identiteit behou. Bastion sal altyd Bastion bly, en ons sal altyd ‘n Afrikaanse skool wees,” het hy verduidelik.

Gert het bygevoeg dat alhoewel elke skool sy eie identiteit behou, daar wel ‘n gesamentlike beheerliggaam sal wees wat uit lede van beide skole bestaan. “Hierdie beheerliggaam is saamgestel soos uiteengesit in artikel 17 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996.”

Volgens Gert is die Twinning-program slegs vir sosiale aspekte en die verbetering van die leerders se akademie, kultuur en sport, en hou voordele vir beide skole in. “Ons kan nou beter en meer geleenthede vir ons leerders op alle gebiede beding wat dan weer beteken dat ons kwaliteit van onderrig, akademie, sport en kultuur verhoog word. Beide skole kan nou geleenthede aan hul leerders bied wat nie tevore daar was nie, hetsy dit vir akademie, kultuur of sport is. Ons kan dit alles doen en aanbied sonder dat daar enigsins ‘n ekstra finansiële las op die ouers geplaas word,” het Gert gesê.

Hy het vertel dat die leerders van die onderskeie skole definitief sal baat wanneer kundige onderwysers in ‘n spesifieke vakgebied gedeel word, en het die volgende voorbeeld gebruik: “Met dié dat ‘n derde taal weer as ‘n verpligte vak by skole aangebied moet word, kan ons van die dienste van een van Madiba se onderwysers gebruik maak om ons leerders te help. Hulle kan dan weer een van ons onderwysers gebruik om hulle met Afrikaans – wat glad nie by hulle aangebied word nie – te help.”

Gert het bygevoeg dat hierdie onderrig hoofsaaklik deur regstreekse stroming (live streaming) gedoen sal word om beide skole te bevoordeel. “Ons is baie opgewonde oor die onderneming deur die Departement van Onderwys om skootrekenaars vir elke onderwyser, ‘n tablet vir elke leerder en ‘n volledig toegeruste rekenaarsentrum vir albei skole te voorsien om die regstreekse stroming moontlik te maak.

Nog ‘n belangrike vraag wat baie ouers en gemeenskapslede gevra het, is wat dit nou eintlik beteken as die skole hulpbronne deel. Gert het dit so verduidelik: “Hulpbronne verwys glad nie na die skole se finansies nie. Elke skool het nog steeds sy eie rekening wat apart bestuur word, en die een skool het nie toegang tot die ander skool se finansies nie. In hierdie geval verwys hulpbronne eenvoudig na die samewerking tussen die twee skole om die beste vir die leerders te bied.”

Hy het wel genoem dat, alhoewel die skole in hul eie kapasiteit aan sport- en kultuuraktiwiteite sal deelneem, daar wel aktiwiteite sal wees waar hulle as een skool sal deelneem. “Die groot voordeel is dat leerders aan ander sportsoorte ook blootgestel kan word. Ons kan byvoorbeeld rugbyspelers van Madiba in ons spanne insluit, wat dan as tuisonderrigleerders beskou sal word. Dié spelers moet eers deur die proewesisteem gaan. Dieselfde geld vir ons ander sportsoorte en kultuuraktiwiteite.”

“Die twee skole het reeds onder die MadiBas-vaandel aan sport- en kultuuraktiwiteite deelgeneem, en was die afgelope twee jaar die kampioene van die MEC Atletiekkampioenskappe. Daar was ook al suksesvolle kultuuraktiwiteite teen ander Artikel 17-skole en dit word weer vir aanstaande jaar beplan,” het Gert gesê.

Daar is wel ‘n gesamentlike rekening ingevolge artikel 17 van die Suid-Afrikaanse Skolewet 84 van 1996 geopen, en Gert het gesê, “Die fondse wat verkry word en in die gesamentlike rekening inbetaal word, sal tussen die twee skole vir hul eie gebruik verdeel word. Hoërskool Bastion en Madiba sal nie van hul eie fondse bydra tot die gesamentlike fonds nie; alle gelde moet van buite verkry word. Dit is hier waar die gemeenskap en besighede ‘n groot rol kan speel. Omdat dit ‘n artikel 17-rekening is, sal ons nou ook ‘n artikel 18A-sertifikaat vir alle donasies kan uitreik, wat belastingaftrekbaar is. Dit is basies ‘n belegging vir ‘n beter toekoms vir ons kinders.

“Ons wil net die beste vir ons leerders hê, en ons is oortuig dat hierdie projek ‘n stap in die regte rigting is om dit te bewerkstellig. Hierdie projek sal ons in staat stel om vir elke leerder en onderwyser die beste moontlike geleenthede te bied om te verseker dat die opvoeding wat by Bastion aangebied word, van die hoogste gehalte sal wees,” het Gert afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version