NewsSchools

Florrie-leerder reik na die sterre

Sy doel is om onder die Top 10 akademiese leerders in Gauteng te wees.

 

Die akademiese uitblinker van Hoërskool Florida, Jaco Ferreira het ‘n nuwe standaard vir leerders op akademiese gebied gestel.

Jaco was van Graad 4 tot Graad 12 telkens die top akademiese presteerder, en sluit vanjaar sy matriekjaar op ‘n hoë noot af. Hy is as die Duxleerder met ‘n persentasie van 94,7 aangewys en beklee die eerste plek in die top 10. Hy het die Duxleerdertrofee by die matriekprysuitdeling ontvang. Sy doelwit vir die jaar is om minstens 95 persent aan die einde van matriek te behaal en onder die Top 10 akademiese leerders in Gauteng te eindig.

Hy het by die prysuitdeling ook die Tegniese Arend-, Wetenskap Arend- en die Vaktrofee in Engels, Afrikaans, Elektriese tegnologie, IGO, IT, en Alpha Wiskunde ontvang. Uit sy nege vakke (Afrikaans, Engels, Wiskunde, Lewensoriëntering, Natuurwetenskappe, Elektriese Tegnologie, Alpha Wiskunde, IGO en IT) geniet hy IGO, IT, en Alpha die meeste omdat dit insig, praktiese denke, analisering en toepassing vereis.

“Ek fokus meer op my akademie omdat die sertifikaat wat jy aan die einde van jou skoolloopbaan ontvang, meer deure kan oopmaak en jou kan help om groter sukses te behaal,” het Jaco gesê.

Vir hom is die akademiese raamwerk nie altyd van toepassing op die grootmenswêreld nie, omdat hy voel dat alles wat mens op skool leer, nie noodwendig in die alledaagse lewe toegepas kan word nie. “Jy word soms geleer om die werk soos ‘n papegaai te leer en nie toe te pas nie. Van die goed het my ouers 30 jaar gelede op skool geleer, maar die lewe en wêreld het so verander dat dele van die werk outyds en nie meer van toepassing is nie. Die onderrigstelsel moet kan aanpas by moderne ontwikkelings,” het hy verduidelik.

Hy het gesê dat hy meer praktiese leervakke sou inbring. “Hierdie tipe vakke sal jou leer om alles self te probeer identifiseer, en dit te kan toepas om probleme op te los. Dit is hoe dit daarbuite is; jy sal self jou probleme moet identifiseer en maniere vind om dit op te los. Dis nie altyd wat mens op skool leer nie,” het hy gesê.

Sy grootste droom is om eendag vir NASA of Space-X te kan werk, en daarom gaan hy volgende jaar ‘n student in Elektriese Ingenieurswese by die Universiteit van Pretoria wees. Hy het verduidelik dat hy ook eendag ‘n verskil wil maak in die lewe van mense en in die natuurlewe deur dit te bevorder en te help deur nuwe uitvindings.

“My ouers is my steunpilaar. Hulle ondersteun my in alles, help en moedig my aan om te bereik wat ek wil, of weet ek kan. My motto in die lewe is dat ek weet ek sal sukses behaal, want ek glo in myself. Vir al my mede-Graad 12’s wil ek net sê, glo in jouself en moedig jouself aan. Kry die rus wat jy nodig het, en werk hard vir die laaste sertifikaat wat ons gaan ontvang vir ons 12 jaar van harde werk. Doen jou voorbereiding vroegtydig, en maak dit jou prioriteit. Jy kan bereik wat jy wil, nes die ander wat voor jou die pad gestap het,” het Jaco afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button