NewsSchools

Havies groet vir juffrou Lenie na 44 jaar

Onderwyseres groet na amper 'n halwe dekade.

 

Een van Laerskool Dr Havinga se geliefde onderwysers groet die skool en maak reg vir aftrede.

Lenie Rymaszewska gee reeds sedert 1976 onderwys, wat beteken dat sy nagenoeg 44 jaar by die onderwys betrokke was. Sy is ook ‘n oudleerder van Laerskool Dr Havinga, wat destyds as Witpoortjie Laerskool bekend gestaan het. Daarna het sy aan Hoërskool Roodepoort gematrikuleer en haar diploma in onderwys by die Goudstadse Onderwyskollege voltooi.

Sy het drie merietetoekennings en ‘n spesiale toekenning van Verdienste van doktor Paine (‘n voormalige Direkteur van Onderwys) gedurende haar onderwysloopbaan ontvang. Vir die afgelope 22 jaar was sy Departementshoof vir die Grondslagfase by Laerskool Dr Havinga.

Lenie het gesê, “Alles hier by die Havies is ‘n voorreg. Die lekkerste van alles is dat jy elke dag met mense gewerk het wat ‘n passie vir die skool het.”

Vir Lenie was een van die groot hoogtepunte in haar onderwysloopbaan die feit dat sy betrokke kon wees by vyf van die Havies se revues. Sy het ook net goeie dinge te sê gehad van die leerders en haar kollegas. “Die leerders en onderwysers het so in my hart gekruip en is vir my soos familie.”

Sy voel dat haar nalatenskap die verskil is wat sy gemaak het of die betekenis wat sy gegee het aan die kinders, ouers en personeel se lewens.

Al groet sy die Havies met ‘n swaar hart, is sy baie dankbaar vir die 43 jaar wat sy saam met hulle kon spandeer, “Die Havies was ‘n leeftyd lank deel van my en sal altyd in my hart bly. Hier het ek al die geleenthede gehad om te groei en te ontwikkel.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button