Local newsNews

Witpoortjie-ma droom daarvan om hand-aan-hand saam met haar kinders te stap

'Ek maak elke oggend die besluit om op te staan en 'n voorbeeld vir my kinders te wee'

Die 36-jarige Candice Badenhorst het nog nooit toegelaat dat die verlies van haar regterbeen haar onderkry nie. Sy staan vir geen uitdaging terug nie. Sy het wél een groot droom. “Ek wil só graag hand aan hand saam met my kinders in die winkels stap maar omdat ek met krukke oor die weg kom, kon ek dit nog nooit doen nie.”

Candice was 19 toe sy met Ewing se Sarkoom, ‘n vorm van beenkanker gediagnoseer is. “Ek het ‘n klein knoppie op my knie gehad, wat nou en dan seer geword het.. Aanvanklik het die dokters vir my gesê dat dit ‘n beentjie is wat nie reg ontwikkel het nie, en dat hulle niks daaraan kon doen nie. Hulle het my huis toe gestuur met pynpille, maar die pyn het só erg geword dat ek later nie meer kon opstaan nie,” het sy vertel.

Sy het gesê dat die onkoloog haar na ‘n biopsie ingelig het dat sy beenkanker het. “Ek het vyf sessies chemoterapie gehad voordat hulle die gewas kon uitsny, en aanvanklik het dit gelyk of dit goed afgeloop het. Maar na ‘n rukkie het ek weer ‘n knoppie op my been opgemerk, en toe hulle dit ondersoek, het hulle gesien dat daar watte na die biopsie in my been agtergebly het, en ek moes weer ‘n operasie ondergaan. Hierdie keer het my been nie gesond geword nie en na ontelbare doktersbesoeke moes ek aanvaar dat ek my been sou verloor,” het Candice gesê. Haar been is vier maande voor haar 21ste verjaardag geamputeer, maar Candice het nog nooit moed opgegee nie.

“Ek moet eerlik wees, dit was nooit vir my ‘n maklike pad nie en ek het baie moeilike dae gehad en wou nie aangaan nie, maar ek het besluit dat dit my nie sou onderkry nie. Ek het opgehou vra hoekom ek, en dit verander na hoekom nié ek nie,” het sy gesê.

Candice en haar man Francois het twee seuns, en sy het vertel dat hulle, saam met die ondersteuning van haar ma, die grootste rede is hoekom sy nie gaan lê nie. “Ek neem elke oggend die besluit om op te staan en aan te gaan en in plaas daarvan om vir myself jammer te voel. Ek sê dankie dat ek nog ‘n dag gegun is.”

Sy het bygevoeg dat sy nie die prostese wil hê omdat sy skaam is of bekommerd is wat mense van haar dink nie. “Ek kan baie dinge vermag met my een been en krukke, maar ons lewens kan soveel makliker wees. ‘n Prostese is baie duur en ons mediese fonds betaal net ‘n gedeelte van die kostes. Dit beteken ons moet die res uit ons sak betaal, wat nie altyd moontlik is nie.

Ek wil nie hê dat mense my moet jammer kry nie, maar as daar iemand is wat my dalk kan help om ‘n kunsbeen te kry, sal ons baie dankbaar wees.”

Vir meer inligting, stuur ‘n epos na adeleb@caxton.co.za. Alle navrae sal aan Candice gestuur word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button