Florida-meisie bly veg teen leukemie

'Ek het net besluit dat ek kanker sál wen'

 

Die 18-jarige Clarece Scholtz se lewe het met een diagnose handomkeer verander, maar sy laat nie toe dat dit haar onderkry nie.

Clarece is op 23 Julie met akute limfoblastiese leukemie gediagnoseer, en sy het vertel, “My ma het my na die kliniek by die apteek geneem toe my neus vir amper twee dae lank onophoudelik gebloei het. Die suster het ons aangeraai om dadelik hospitaal toe te gaan, waar ek menige toetse ondergaan het. Toe die dokter vir my die diagnose gee, was ek stomgeslaan. Alhoewel ek besef het dat dit met enigiemand kan gebeur, wou ek weet, ‘hoekom ek?’.”

Sy het bygevoeg dat sy gewonder het hoe sy haar rekordeksamen gaan skryf en of sy haar matriekafskeid aan die einde van September sou kon bywoon. “Ek was vir drie weke in isolasie by die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal waar ek my eerste rondte chemoterapie ontvang het. Ek is tans besig met my rekordeksamen, en dit gaan goed,” het sy gesê.

Clarece was op 28 Augustus weer by die spesialis waar weereens beenmurg getrek het is om te toets vir die teenwoordigheid van kankerselle. Fransie, Clarece se ma het gesê, “Die uitslae het gewys dat Clarece op die oomblik minder as een persent kankerselle in haar liggaam het. Die spesialis was baie ingenome met haar vinnige herstel aangesien sy in Julie meer as 95 persent kankerselle gehad het. Sy is basies nou in remissie, maar sal steeds vir die volgende twee jaar chemoterapie met gereelde tussenposes moet ontvang. ‘n Beenmurgoorplanting is ook nog ‘n opsie.”

Clarece moes by die Departement van Onderwys toestemming kry om van haar ander vraestelle in die hospitaal te skryf, aangesien sy weer sedert 10 September in die hospitaal was vir nog ‘n chemoterapiesessie.

“Ons is baie dankbaar teenoor mnr Katzke, die hoof van Hoërskool Florida wat ons met soveel liefde en ondersteuning bygestaan het, en verseker het dat Clarece sonder te veel onderbrekings haar matriekjaar sal kan voltooi,” het Fransie gesê.

Clarece het vertel dat alhoewel die diagnose haar soos ‘n emosionele bus getref het, dit nie beteken het dat dit die einde was nie. “Jy het positiwiteit, familie en definitief die Here nodig om deur te druk. Moet net nie opgee en in negatiwiteit lewe nie. Kyk vorentoe en baklei, want êrens is daar iemand wat nie sonder jou kan klaarkom nie.”

Martin Coetsee, Clarece se kêrel het vertel dat hy oorweldig was toe hy Clarece se boodskap gekry het. “Die eerste ding wat ek gedoen het, was om my pa te vra om my hospitaal toe te neem sodat ek vir haar kon gaan kuier. Daarna het ek besef dat hulle geld gaan nodig hê, aangesien hulle nie ‘n mediese fonds het nie, en ek het navorsing begin doen. Ek het op die Back A Buddy- webtuiste afgekom, en vir haar ‘n fondsinsamelingsbladsy geskep (https://www.backabuddy.co.za/champion/project/clarece-acute-leukemia). Ons het al net ‘n bietjie meer as R67 000 ingesamel. Die skool het ook ‘n rekening vir haar, en hulle staan al op R59 000,” het hy gesê.

Die gesin het hul dankbaarheid teenoor die gemeenskap uitgespreek vir al die bydraes, ekstra gebede en ondersteuning. “Sonder hierdie ondersteuning sou ons nie kon aangaan nie, en ons is baie dankbaar daarvoor. Dit is wonderlik om te sien dat daar nog soveel liefde en omgee in ons ou wêreld is,” het Fransie gesê.”

Vir meer inligting oor hoe Clarece gehelp kan word, stuur ‘n epos na die Record-joernalis by adeleb@caxton.co.za. Alle navrae sal aan Fransie gestuur word.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites 

Randfontein Herald

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version