Editor's choiceLocal newsNews

Paartjie vier 65 jaar van liefde en vertroue

'Ons het nog nooit rusie gemaak nie'

Frik, 87, en Nancy van Loggerenberg, 85, glo dat hulle vir mekaar bestem was, en 65 jaar later is hulle nog net so gelukkig soos die dag toe hulle getroud is.

“Dit is wonderlik hoe mense bymekaar uitkom; ek was ‘n stadsmeisie en Frik was ‘n plaasseun wat op 16 jaar van Groot Marico af Gauteng toe gekom het.

Ons het altwee daagliks die trem gehaal om werk toe te gaan en mekaar maar so ‘n bietjie uitgekyk. Ons het vir die eerste keer met mekaar gepraat toe ons by die kerk ontmoet het, en ek onthou dat hy saam met my huis toe gestap het. Ek kon nie wag om vir my ma van die oulike outjie te vertel wat ek ontmoet het nie. Hy het toe vir my vertel dat hy altyd in die winkelvenster na my gekyk het,” het Nancy vertel. Frik het ondeund bygevoeg, “Ek het van ver af gekom om haar te kry”.

Frik en Nancy was vir drie jaar bymekaar voordat hy die jawoord gevra het. Hulle is op 4 April 1952 getroud. Hulle het hulle in Bergbron gevestig, waar hulle vir byna 33 jaar saam met hul drie seuns gewoon het. “Ons was baie gelukkig waar ons gebly het, maar nadat ons ‘n inbraak net-net vrygespring het, het die kinders daarop aangedring dat ons by hulle moet kom bly, en ons is nou so amper 16 jaar al hier in Wilropark,” het sy gesê.

Die paartjie vertel dat, alhoewel hulle soms meningsverskille het, hulle nog nooit rusie gemaak het of kwaad vir mekaar gaan slaap het nie. Volgens Nancy is dit nie die moeite werd om oor dinge te baklei nie.

Hulle het drie kinders, ses kleinkinders en vier agter-kleinkinders. “Ons is so geseënd om nie net mekaar nog te hê nie, maar om ons kinders, kleinkinders en agterkleinkinders ook naby ons te hê en om hulle te sien grootword,” het Nancy vertel.

Maar wat is hulle geheim vir so lang en gelukkige huwelik? Hulle het na mekaar gekyk, en uit een mond gesê, “Die hoeksteen van enige verhouding, is ware liefde, vertroue en geloof”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button