Jong model droom van akteur word

‘Dit Is ‘n groot geleentheid en dit sal my help om my droom te bewaarheid’

 

“Ligte, kamera, aksie!” Dit is die woorde wat die 13-jarige Kyle Ras droom om eendag te hoor.Hy het vertel dat hy ‘n groot aanhanger van die televisiereeks Henry Danger is, en dié reeks se hoofkarakter was die grootste motivering vir sy besluit om ‘n akteur te word.

“Nadat ek vir Jace Norman in die reeks gesien het, het ek vir my ma gevra wat ‘n mens moet doen om ‘n akteur te word. Sy het gesê die eerste stap in dié loopbaanrigting is om modelwerk te doen, waar jy die kans staan om deur agente raakgesien te word,” het hy gesê.

Kyle het nie op hom laat wag nie, en by Figures Models in Roodepoort aangesluit waar hy in die kommersiële modelwerk-kategorie deelgeneem het. “Kommersiële modelle is dié wat vir televisie- of tydskrifadvertensies gebruik word, en dit is die perfekte voorbereiding vir iemand wat ook graag ‘n akteur wil wees.

Ek het in September verlede jaar aan my eerste kompetisie deelgeneem,” het Kyle verduidelik.

Sy ma, Liaan Ras het bygevoeg dat hy alreeds aan drie kompetisies deelgeneem het, en het gesê, “Hy en sy tweelingbroer het saam aan die eerste kompetisie deelgeneem en Kyle was baie opgewonde oor die volgende een. Hy het my eintlik verbaas met sy selfvertroue.”

Kyle het baie goed tydens die drie kompetisies presteer, gevolglik het sy afrigter, Theresa de Stoppelaar, hom gekies om aan die jaarlikse konferensie van die International Models and Talent Association (IMTA) deel te neem. “Daar kry potensiële akteurs en modelle die geleentheid om voor 12 internasionale agente op te tree,” het sy gesê.

Die konferensie sal in Maart op die MSC Sinfonia plaasvind. “Dit is waar Kyle ‘n kans sal kry om raakgesien te word en sy droom om in die vermaaklikheidswêreld te werk, kan bewaarheid. Dit is ‘n baie groot geleentheid maar weens ons huidige finansiële posisie kan ons nie self die bedrag van R16 500 bybring nie. Ons het reeds R6 850 ingesamel, maar moet die uitstaande R9 650 voor 27 Januarie betaal,” het Liaan gesê.

Kyle het gesê dit sal vir hom baie beteken om aan hierdie konferensie te kan deelneem, aangesien dit ‘n baie goeie geleentheid is. “Ek het nooit gedink dat ek dit ooit in my lewe sou kon doen nie, en hierdie geleentheid sal net nog ‘n stappie nader daaraan wees om my droom te bewaarheid,” het hy verduidelik.

“Ons het besluit dat ons graag hierdie geleentheid vir Kyle wil moontlik maak omdat ons kan sien dat hy regtig wil deelneem en belangstel. Hy gaan nie net op ‘n plesierrit nie, hy sal baie hard moet werk om homself te bewys,” het Liaan trots vertel.

Liaan het bygevoeg dat hulle enige persoon of maatskappy wat bereid sal wees om hulle met ‘n borgskap of donasie te help, ewig dankbaar sal wees. “Sou iemand ons graag wou help, of nog inligting benodig, kan hulle my kontak by 084 206 9414, of liaanras83@gmail.com,” het sy afgesluit.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version