Editor's choiceLocal newsNews

Kers-bederf vir Have a Heart se inwoners

Inwoners sluit jaar met heerlike ete en vermaak af

 

“Die doel van vandag is om julle te laat onthou dat Kersfees altyd ‘n spesiale tyd is, maak nie saak wat jou omstandighede is nie,” het Linda Rademeyer gesê.

Linda het onlangs ‘n Kersete vir die inwoners van die Have a Heart Care Centre in Roodepoort gereël. “Vandag is ‘n afsluitingsete, ‘n klein gebaar van my om die inwoners te help om hul jaar op ‘n hoogtepunt af te sluit. Elke inwoner het ‘n heerlike bord kos en poeding gekry, en gaan ook met ‘n geskenkie – wat spesiaal vir hulle gepak is – huis toe,” het sy verduidelik.

Voor: Glenda van Rooyen en Caroline De-vernon. Agter: Faith Govindsamy. Foto’s: Adéle Bloem

Die inwoners is boonop met ‘n minikonsert bederf, wat spesiaal deur die kleuters van Pikkieland Kleuterskool opgevoer is.

Sy het aanvanklik by die sentrum betrokke geraak nadat haar predikant gevra het of sy sou belangstel om te help. “Ek het nie eintlik van die sentrum geweet nie, maar toe ek eers begin help het, kon ek nie ophou nie,” het sy met ‘n glimlag vertel.

Linda probeer om ten minste twee maal ‘n week die inwoners met ‘n kuiertjie en lekkernye (koek of pannekoek) te bederf, en vertel dat sy soms ‘n paar CD’s saamneem, en dan dans en oefen sy en die inwoners sommer ‘n hond uit ‘n bos uit!

Linda Rademeyer, Ninnie Lombard, Carol Mapson en Lucinda Human.

Sy samel ook regdeur die jaar klere in, wat sy dan een maal ‘n maand by die sentrum aflaai. “Die klere wat hulle nie gebruik nie, kan hulle verkoop om so ‘n geldjie te kry om in hul daaglikse behoeftes te voorsien,” het Linda gesê.

Linda glo dat mens jou gewig iewers moet ingooi. “Ek het besluit dat ek net sowel kan aanhou om by die sentrum uit te help, en sodoende my deel bydra om hul omstandighede te probeer verbeter,” het sy vertel.

Voor: Chris Pieters en Jan Barnard. Agter: Daphné Martin en Marie Bornman.

Linda is regdeur die jaar besig met verskeie fondsinsamelingsprojekte vir die sentrum, en vra dat enigeen wat graag wil help, haar kontak by 082 452 5287 of 011 764 2032.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button