Editor's choiceNewsSchools

Florries ontvang groot geskenk

Besigheid se skenking help om leerders te voed

 

Hoërskool Florida se voedingskema het onlangs ‘n welkome kontantinspuiting van ‘n plaaslike besigheid ontvang.

“Toe die Eyelove-oogartspraktyk in Flora-sentrum my genader het met hul voorstel, het ek pure dankbaarheid ervaar. Dit is lekker om te sien dat daar maatskappye en individue buite die skool is wat ons leerders raaksien en wil bystaan. Met hierdie welkome skenking sal ons vir nog ‘n maand of twee vir ons leerders wat deel van die voedingskema is, kan sorg,” het Morné Hanekom, die skool se skakelbeampte gesê.

Geline Maré, die oogkundige van Eyelove het verduidelik dat ‘n vraag van een van die Record-joernaliste haar laat besef het dat sy die geleentheid asook ‘n morele verpligting het om na die gemeenskap se behoeftes om te sien. “So, as ‘n besigheidseienaar, het ek nie net die geleentheid om aan my gemeenskap terug te gee nie, maar ook om die gemeenskap bewus te maak van ander se nood en sodoende tot die opbouing van die mense by te dra,” het sy gesê.

Sy het gesê dat daar baie besighede is wat graag aan liefdadigheidsorganisasies wil skenk, maar nie altyd weet waar om te begin nie.

“Ons almal weet van die groot liefdadigheidsorganisasies wat hulself kan bemark, maar ons moet moeite doen om die kleiner instansies in ons gemeenskap te identifiseer, en daar ons hulp aanbied,” het sy gesê.

Daar is besluit om voortaan gedurende hul verjaardagmaand, November, ‘n instansie te identifiseer wat hulp nodig het, en hulle by te staan. “Ons gee gewoonlik vir ons kliënte in November afslag op enige aankope, maar het besluit om dié keer ‘n persentasie van ons verkope vir die maand aan die gekose instansie te skenk,” het Geline vertel.

Sy het bygevoeg dat baie besigheidseienaars van hul verantwoordelikheid teenoor hul gemeenskap vergeet, en het gesê, “As ons nie na ons gemeenskap se behoeftes omsien nie, wat gaan dan van ons besighede word?”

Sy het by een van haar kliënte van die voedingskema gehoor, en het dadelik met die skool kontak gemaak om te hoor of hulle die eerste begunstigdes van die projek wou wees. “Die skool was dadelik daarvoor te vinde, en ons kon ‘n ruim bedrag vir die voedingskema aan hulle skenk. Sodoende weet ons dat daar definitief ‘n ietsie sal wees vir die 23 gesinne wat hierby baat,” het sy gesê.

Julius Katzke, die skoolhoof het gesê dat hulle baie dankbaar oor hierdie wonderlike gebaar is. “Baie dankie aan Eyelove, maar ook aan elke ander besigheid in ons gemeenskap wat ons skool ondersteun. Elke bietjie wat ons ontvang, maak ‘n groot verskil,” het hy gesê.Gilene het die volgende uitdaging gestel: “Ek daag ander maatskappye uit om ook so ‘n inisiatief van stapel te stuur en sodoende ‘n verskil in hul gemeenskap te maak”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button