Die tandemuis bring vreugde

Onderwyser help om sewejarige se ogies weer te laat blink

 

Die personeel van Laerskool Dr Havinga het onlangs hul liefde en omgee gedemonstreer toe hulle ‘n Graad 1-leerder se dag met ‘n pragtige gebaar opgekikker het.

Die sewejarige Chanté Pearson was baie opgewonde toe sy haar melktand by die skool gewissel het, maar die vreugde het gou in hartseer verander. Sy het so van haar ervaring vertel, “Nadat ek my tand getrek het, het ek badkamer toe gegaan om hom af te spoel, want hy moes mooi skoon wees vir die Tandemuis om vir my geld te gee. Terwyl ek hom afgespoel het, het hy uit my hand gegly en by die drein afgespoel!

Ek het begin huil, want al wat ek kon dink, is dat daar nou nie ‘n tand is om vir geld te ruil nie.”

Haar maats het haar baie jammer gekry en haar dadelik kantoor toe geneem, want hulle was nie seker of sy dalk seergekry het nie. By die kantoor het ‘n onderwyser, Lizelle Kies vir Chanté getroos en gevra wat fout was. “Toe hierdie klein lyfie so hartverskeurend huil oor haar tand, het ek besef hoe weerloos ons kinders is. Haar hart was gebreek omdat sy niks gehad het om in haar skoen te sit nie,” het Lizelle gesê.

Die briefies wat gesorg het vir ‘n geldjie van die Tandemuis af. Foto’s: Adéle Bloem

Sy en Anesta Zevenster het gou-gou vir Chanté gerusgestel met die storie van Smiley. “Ek en Anesta het vir Chanté vertel van Smiley, wie se werk dit is om kinders wie se tandjies weggeraak het, te help. Sy is getroos terug speelgrond toe,” het sy met ‘n glimlag vertel.Anesta het sommer vinnig al die reëlings getref sodat Chanté ‘n spesiale pakkie en briefie van Smiley kon ontvang. “Toe Chanté die pakkie by die ontvangsdame, Elize Bam kry, het haar ogies geblink van opwinding!” het Lizelle gesê.

Chanté het, met die hulp van haar onderwyser, Hettie Smit, ‘n briefie aan die Tandemuis geskryf, waarin hulle verduidelik het wat met haar tand gebeur het. “Ek en juffrou het die briefie geskryf, en sy het gesê ek moet dit vanaand in my skoen sit. Net na tweede pouse het hulle my na die kantoor toe geroep, en ek was baie bang om te gaan, want ek het gedink ek is in die moeilikheid. Toe ek by die kantoor kom, was daar ‘n briefie van die Tandemuis, ‘n notaboekie, tandepasta en R20. Ek het sommer dadelik beter gevoel, en vir my Yankees by die snoepie gekoop!” het sy opgewonde vertel.

Sy het gesê dat sy nog ‘n tand het wat gewissel moet word, maar hierdie keer sal sy eerder haar ma vra om hom by die huis te trek, sodat sy hom nie weer verloor nie.

Lizelle het met die volgende woorde afgesluit, “Dit laat ‘n juffrou se hart sommer warm klop as jy besef dat jy kon help om ‘n kind se probleem op te los. Dit verg so min om ‘n kinderhart gelukkig te maak, en mens moet meer daarop fokus. Dit wat ons nou in ons kinders inploeg, gaan ons oes wanneer hulle grootmense is. Ons moet omgeemense grootmaak, en altyd onthou dat ons kinders deur ons voorbeeld leer.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version