Kloofendal-musikant blink uit tydens musiekkompetisie

Althea presteer tydens Nasionale kompetisie

 

Die 18-jarige uitblinker, Althea Steynberg van Kloofendal was bevoorreg om aan die Nasionale Jeugmusiekkompetisie in Kaapstad deel te neem.

Sy vertel dat dit vir haar ‘n besondere belewenis was en het gesê, “Vandat ek in Graad 8 was, het ek daarvan gedroom om eendag aan hierdie kompetisie te kan deelneem. Ek moes egter nog baie oefen om die hoë standaard wat gestel word, met my dwarsfluit te bereik.”

Michael Maas (NJMK-voorsitter) en Althea Steynberg. Foto: Verskaf

Althea was ‘n naaswenner in die blaasinstrumentekategorie, en ook een van die ses finaliste wat aan die galakonsert in die Hugo Lambrechts Ouditorium in Parow deelgeneem het. “Die hoogtepunt van die kompetisie was ongetwyfeld die finaal waartydens ek en die ander vyf finaliste saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes opgetree het. Die orkeslede en ook die dirigent, Brandon Phillips, is almal fantastiese musikante en dit was vir my ‘n groot voorreg om saam met hulle te kon optree,” het sy met ‘n glimlag gesê.

Sy het ook gesê dat sy op laerskool aan die Hubert van der Spuy-kompetisie in dieselfde ouditorium deelgeneem het. “Ek het baie nostalgiese herinneringe van hierdie saal se akoestiek gekoester, en tydens die afgelope kompetisie het ek weereens besef dat dit nie nét my verbeelding was nie. Die lekkerste van die kompetisie was definitief die saal se akoestiek en die mense. Ek was verbaas oor die positiwiteit en die aanmoediging wat ons musikante van almal ontvang het.

Oral waar ek was, het ek net glimlagte gesien, en dit het my laat onthou hoekom ek musiek maak – die lekkerste ding op aarde vir my om te doen,” het Althea vertel.

Belangstellendes, wat nie die galakonsert kon bywoon nie, kon na ‘n regstreekse internetuitsending kyk en ook die musiek geniet. Die video sal binnekort op die kompetisie se webblad gelaai word.

Gilah Kellner, ‘n 14-jarige violis van Parktown-Noord, is as die algehele wenner van die kompetisie aangewys en Emilio February, 19, het die tweede plek en ‘n silwermedalje verower. Die derde prys is gesamentlik aan twee musikante, Eike Coetzee, 15, en Nicholas Bruiners, 19, toegeken. Albei het in die strykinstrumentekategorie deelgeneem.

Ander kategoriewenners was die 17-jarige David Cyster (blaasinstrumente) en die 19-jarige Jolandi Schaap (klavier). Die 14-jarige Ah-Young Moon is as die naaswenner in die klavierkategorie aangewys.

Rosemarie Lemmer, 19, is aangewys as die beste semifinalis maar kon nie na die finale rondte deurdring nie, en Beate Boshoff, 16, het die prys ontvang vir die beste uitvoering van ‘n klassieke werk deur ‘n pianis.

Die stigter en voorsitter van die Nasionale Jeugmusiekkompetisie, Michael Maas het met die volgende woorde afgesluit, “Oor die afgelope 33 jaar verbeter die standaard jaarliks – ‘n bewys dat daar ‘n gesonde groeikultuur vir klassieke musiek regoor Suid-Afrika is”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version