Tienjarige benodig operasie om normaal te kan loop

Gemeenskap gevra om te help met donasies

 

“Dit sal nie net makliker wees om skoene te koop nie, maar hy sal weer aan sport kan deelneem,” het Dalene Swarts, ma van die 10-jarige Tytan Swarts gesê.

Dalene het vertel dat Tytan se voete normaal was by geboorte, maar omdat hy so nuuskierig was, het hy altyd op sy tone gestaan. “Hy sou op sy tone staan as hy bo-oor iets wou kyk, of om iets wat op ‘n hoë plek gebêre is, te kry. Sodra hy gekry het waarna hy soek, het hy weer platvoet geloop. Maar, op vierjarige ouderdom het hy permanent op sy tone begin loop, want sy Achilles-sening het verkort,” het sy gesê.

Dié gewoonte het nie net Tytan se manier van loop beïnvloed nie, maar ook sy balans. Selfs sy rug is besig om skeef te groei.

Dalene het vertel dat hulle nie ‘n mediese fonds het nie, en dat die behandeling vir Tytan se toestand baie duur is. “Hy het ‘n hele paar sessies by die fisioterapeut gehad en dit het ‘n groot verskil gemaak, maar sodra hy slaap, krimp die sening weer.

Die apparaat wat hy deur die nag kan gebruik om dit te help verhoed, is ongelooflik duur. Soos sy terapie vorder, moet hy boonop nuwes kry,” het Dalene gesê.

Vir Tytan is die enigste oplossing ‘n operasie om die Achilles-sening te verleng sodat hy weer normaal kan loop. “Ons is baie dankbaar om te kan sê dat ‘n ortopediese chirurg en ‘n narkotiseur van Randfontein hul dienste gratis aangebied het, maar ons moet die hospitaalverblyf (twee dae), X-strale, teateronkoste en die nasorg – wat die spanstukke, gips en fisio insluit – betaal. Dit beloop ongeveer R35 000.”

Leoni Bekker, die eienaar van Die Windpompie by Laerskool Florida, het van Tytan se situasie gehoor toe sy ouma haar gevra het of sy sal kan help om kolwyntjies te verkoop. “Ek het gedink dat kolwyntjieverkope nie gou genoeg die nodige geld sou kon inbring nie, en omdat Tytan altyd so getrou help om papiere na skool op te tel, het ons besluit om te help om die geld vir hom in te samel. Nadat ons sy storie op sosiale media begin deel het, het ons reeds ongeveer R6 500 ingesamel, wat donasies van heelwat plaaslike besighede insluit,” het Leoni gesê.

Devin Kok, Tytan se beste maat, het ook nie op hom laat wag nie, en dadelik besluit hy wil ook help. “Hy is my beste vriend, en ek wil graag hê hy moet weer saam met my kan rondhardloop en krieket speel, daarom wou ek ook vir hom geld insamel,” het hy met ‘n breë glimlag vertel.

Tytan Swarts kan glad nie platvoet staan nie.

Devin se ouma, Ella Morton het met trots vertel dat Devin reeds R350 van sy eie sakgeld oorbetaal het, asook ‘n R2 000 donasie van die Kadima AGS Kerk in Newlands. “Ons is in die proses om ‘n lootjielys saam te stel, wat ook sal help om geld in te samel. Ons het reeds ‘n tweede prys, maar probeer nog om ‘n borg vir ‘n eerste prys te kry,” het sy vertel.

Daar word ook op 4 November ‘n fondsinsameling vir Tytan by die Silverstar Barnyard gehou en volgens Dalene het hulle nog kaartjies beskikbaar. Om meer oor hierdie projek uit te vind, of om kaartjies te koop, kontak haar gerus by 074 170 5860.

Donasies kan in die volgende rekening betaal word: T Swarts, Absa Key West, rekeningnommer 9194224208, met Die Windpompie as verwysing.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version