Editor's choiceLocal newsNewsUpdate

Zannerique is ons klein ‘survivor’

"Ek sal definitief ook aan volgende jaar se Cansa Relay for Life deelneem."

 

“Die Cansa Relay For Life was ‘n ongelooflike ervaring, en ek sal dit definitief weer volgende jaar doen – ongeag die omstandighede,” het Tersia Toerien gesê.

Sy is die ma van die agtjarige Zanerique Toerien, wat in Julie verlede jaar met breinstam-glioma gediagnoseer is. Dié kanker is ongeneesbaar, en ook baie aggressief, en aanvanklik was die prognose dat sy net ses tot agt maande sou lewe.

Oorspronklike artikel: Sesjarige het jou hulp nodig

“Maar, hier is ons nou, ‘n jaar en ‘n half later, en Zanerique is nog met ons. Ons het besluit om vanjaar aan die Cansa-geleentheid by Hoërskool Bastion deel te neem, want ek glo sy verdien die stap. Sy is ons vegter en survivor,” het Tersia gesê.

Agter: Gerrit van Deventer, Zhaney en Tersia Toerien. Voor: Zanerique Toerien. Foto: Alanicka Lotriet

Sy het bygevoeg dat, alhoewel die atmosfeer tydens die geleentheid baie positief was, hulle tog ook hartseer was. “Zanerique het ook die stap geniet, en het selfs vir ‘n rukkie uit haar rolstoel opgestaan en so 500 meter saam met ons geloop. Die honde wat daar was, het in ‘n stadium langs haar rolstoel gestap. Dit was vir Zanerique ‘n ongelooflike ervaring omdat sy baie lief vir diere is. Ek, my ma en pa, asook Zanerique se sussie, Zhaney, het beurte gemaak om haar in die rolstoel te stoot. Alhoewel sy nie wou huis toe gaan nie, het ons so teen 9nm huiswaarts gekeer, want dit het begin koelerig raak en ons wou haar nie in die koue buite hou nie,” het sy vertel.

Die Record het in Januarie berig dat Zanerique weer terug by die skool was. Die gewas op haar brein het gekrimp en sy was simptoomvry, maar volgens Tersia het dit weer begin groei en die kanker is baie aktief. “Ons het Zanerique nou weer uit die skool gehaal en ek versorg haar voltyds by die huis. Maar, alhoewel baie mense dit as ‘n terugslag sou sien, kyk ons nie so daarna nie, want Zanerique kan nog loop, lag, inkleur en met my gesels. Dit gaan eintlik goed met haar – onder omstandighede,” het Tersia gesê.

Lees ook: Zanerique – ses maande later

Sy het vertel dat elke dag wat hulle saam met Zanerique kan spandeer, ‘n seën is en dat die grootste geskenk vir hulle is as sy haar oë in die oggend oopmaak. “Die hospitaal kan nou niks meer vir haar doen nie, en die kortisoon wat sy twee maal ‘n dag gebruik, asook die morfien en ander medikasie, is nou slegs om die pyn te beheer, maar ons is so dankbaar vir die tyd wat ons nog saam met haar het,” het Tersia vertel.

“Ons is dankbaar vir al die hulp, bystand en belangstelling van elkeen in die gemeenskap, want daarsonder sou ons nie elke dag kon opstaan en aangaan nie. Ons Facebook blad, Zanerique Support (https://www.facebook.com/zanerique/?fref=ts) gee ‘n kykie van die pad wat ons al gestap het, en ook nog gaan stap,” het Tersia gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button