Stap deur die nag vir ‘n goeie doel

Hoërskool Bastion nooi jou om aan die Cansa Relay for Life deel te neem

“Kom beleef Cansa en Hoërskool Bastion se handevataksie en neem deel aan die Cansa Relay for Life,” het Jeanetta Lubbe van Hoërskool Bastion gesê.

Vanjaar vind die Kankerverenigning van Suid-Afrika (Cansa) se Relay for Life by die skool plaas en almal in die gemeenskap word uitgenooi om hieraan te kom deelneem. “Dit is ‘n deurnag-geleentheid wat van 6nm op 13 Oktober tot 6vm op 14 Oktober plaasvind. Die tema is Power of Purple, en elkeen word uitgedaag om deel te word van hierdie toegewyde groep mense wat met dankbaarheid hul deel bydra om kankerpasiënte met ‘n purperkleed te omvou,” het sy gesê.

Vir Jeanetta is kanker ‘n saak wat haar na aan die hart lê, aangesien sy eerstehandse ondervinding daarvan het. Sy het nie net haar man weens die siekte verloor nie, maar sy het self ook dié pad gestap. “Dit was nie ‘n maklike pad nie, maar ek het die groot geheim geleer – dankbaarheid. Ja, selfs met kanker!” het sy gesê.

Sy het vertel dat haar man in 2012 met kanker gediagnoseer is en dat sy op dieselfde dag as sy eerste bestralingsessie ‘n operasie moes ondergaan. “Ons het mekaar in die hospitaal in ons rolstoele besoek, en ja, met groot dankbaarheid! Tydens die laaste fase van sy reis het ek tuis langs hom gelê terwyl ek, as gevolg van my septiese wond, aan ‘n masjien gekoppel was. Dankbaarheid? Ja, wat, na 49 jaar en ses maande se getroude lewe was daar tyd vir afskeid neem!” het Jeanetta gesê.

Haar chemo-pad was lank en dikwels moeilik, maar sy het vertel dat sy ware dankbaarheid ervaar het en ook waardering gekry het vir dapper kankervriende. “Ek onthou die vroutjie wat fyn lintborduurwerk gedoen het om te sorg dat sy kreatief bly, asook die handgemaakte oorbelle wat Susan vir my gegee om die doodsheid in haar vingers te probeer beveg,” het sy gesê.

Dan is daar die dankbaarheid by almal in die chemo-lokaal teenoor onkoloë en ander personeel wat ten spyte van groot druk, elke pasiënt professioneel behandel en sorg dat hul menswaardigheid behoue bly. “Wanneer ons ingeryg langs mekaar sit met ons sakkies wat drup, drup, drup, maak ons oogkontak oor alle kultuurgrense heen, en glimlag vir mekaar – dankbaar vir begrip,” het sy vertel.

Sy het bygevoeg dat die chemoterapie ook sy tol geëis het. Haar ‘dooie’ vingers laat haar soos ‘n krap skryf en haar ‘dooie’ voete laat haar soos ‘n eend loop, maar, het sy gesê, “Ek is dankbaar dat ek kan loop en skryf”.

Sy het afgesluit deur die skoolhoof, Gert Koekemoer, asook die beheerliggaam te bedank dat hulle die skool se fasiliteite vir dié geleentheid mag gebruik.

Vir meer inligting oor hierdie Cansa Relay for Life, kontak vir Ester by 061 700 5000, Elize by 074 101 4850 of besoek die webtuiste by www.relayforlife.org.za/what-is-relay/.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at roodepoortrecord@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 955 1130.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites 

Randfontein Herald

Krugersdorp News 

Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our FacebookTwitter and Instagram pages to let your voice be heard!

 

Exit mobile version