Nuwe leiers vir Florries

Hoërskool Florida se nuwe VLR aangewys

Die atmosfeer in Hoërskool Florida se skoolsaal was een van afwagting tydens die onlangse VLR-inhuldigingseremonie.

Tydens hierdie seremonie is die nuwe Verteenwoordigende Leerderraad (VLR), asook hoofleiers van die skool aangewys. Die seremonie is deur pastoor Johan Pieterse van die Mosaïek-gemeente geopen waarna die skool se adjunkhoof, Koos Jansen van Vuuren ‘n afskeidsboodskap aan die huidige Graad 12-leerders oorgedra het.

“Ons is baie trots op ons Graad 12-groep en vanjaar se VLR-lede. Ons as personeel salueer julle,” het hy gesê.

Johan Coetzee, Henrico Schoeman, Wiehann Kruger en Bertus Beetge wag in spanning om te hoor wie gaan as hoofseun aangewys word.

Melanie Nel, die huidige hoofdogter, het die VLR-erekode aan die nuwe VLR-leerders voorgelees, en voordat die nuwe leiers verhoog toe geroep is om hul baadjies van hul ouers te ontvang, het die huidige hoofleiers hul afskeidsboodskappe gelewer en ook hul baadjies uitgetrek as ‘n simbool dat hulle die leierskap oorgee.

Nadat elke nuwe VLR-lid hulle baadjies ontvang het, het die groot oomblik aangebreek waarvoor almal asem opgehou het. Die hoof, Julius Katzke het die name van die agt leerders uitgelees wat as die nuwe Uitvoerende Raad verkies is. Hulle het op die verhoog gewag om te hoor wie as die nuwe hoofseun en -dogter aangewys sou word.

Melissa Schroeder, Kaysha Barnes, Erya Bergh en Michelle Moolman voor die aankondiging van die hoofdogter.

Die hoof se aankondiging van die hoofleiers is met luide toejuiging van die leerders begroet, en Henrico Schoeman (Hoofseun) en Kaysha Barnes (Hoofdogter) was oorstelp van vreugde.

Julius het die seremonie afgesluit met die volgende woorde, “Vandag se jong leiers moet ‘n verskil in hierdie deurmekaar wêreld maak, en, alhoewel dit ‘n voorreg is om as ‘n leier verkies te word, is dit ook ‘n groot verantwoordelikheid”.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version