Editor's choiceLocal newsNews

Tienduisend redes om te glimlag

Wicked Wheels Motorfietsklub bederf Floroma-inwoners op Vrouedag

“Dit het my vyf jaar geneem om hierdie geleentheid te beplan en te besluit vir wie ek die geld wil gee,” het Neels Jonker, die president van die Wicked Wheels Motorfietsklub gesê.

Hy het Floroma op Nasionale Vrouedag saam met ander klublede besoek om vir hulle ‘n welkome geskenk te oorhandig. “Ons het ‘n fondsinsameling wat ons ‘n ‘Day Jol’ noem, op 1 Julie gehou om die klub se vyfde verjaardag te vier. Ek het besluit om die opbrengs daarvan tussen Floroma en die West Rand Bikers Church te verdeel,” het Neels gesê.

Die Wicked Wheel Motorfietsklub het ‘n aansienlike bedrag aan die Floroma-ouetehuis oorhandig.

Hy het vertel dat hulle klub baie betrokke is by Floroma en altyd probeer help waar hulle kan. “Omdat dit ‘n instansie is wat nie hulp van die Staat kry nie, het ons besluit om hulle aan te neem. Ons het al heelwat werk hier gedoen, soos om nuwe kennisgewingborde te maak en vloerteëls te lê. Ons is besig om van die vertrekke uit te verf,” het hy gesê.

Neels het bygevoeg dat hulle altyd iets spesiaal vir die inwoners oor Kersfees, Paasfees asook op Valentynsdag doen. “Ons probeer om van ons motorfietsryers se kant af iets aan die gemeenskap terug te gee, sodat mense kan sien ons is nie net ‘n klomp skobbejakke nie,” het hy met ‘n glimlag gesê.

Monica van der Westhuizen en Annamarie du Plessis.

Pastoor Johan van Eck het die verrigtinge met ‘n treffende boodskap geopen, waarna die tjek van R10 000 aan die tehuis se bestuurspersoneel oorhandig is. Nadat al die formaliteite afgehandel is, kon die inwoners aan al die heerlike eetgoed smul wat Wicked Wheels verskaf het. Die lede het ook ‘n tydjie afgeknyp om saam met die inwoners te kuier, ‘n geselsie of twee aan te knoop of ‘n storie te deel wat die dag nog spesialer gemaak het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button