Florida-tweeling ontdek die vreugde van gee

Dit is altyd lekkerder om te gee as om te ontvang.

Vir twee Graad 11-leerders van Hoërskool Florida was dit so lekker om te gee dat hulle nog drie projekte wil aanpak.

Vir Chanté en Bianca Allen het dit alles begin met die uitdaging wat hul skool gestel het dat hulle hierdie jaar aan hul gemeenskap moet wy. Die twee het nie op hulle laat wag nie, en vroeg in die jaar al skryfbehoeftes aan behoeftige Graad 1-leerders by Laerskool Claremont te oorhandig.

Bianca en Chanté Allen by die Wesrandse Skool vir Gestremdes.

Hulle volgende projek was die Abagtha Projek, waar hulle benodigdhede vir die Florida Baby House ingesamel het. Met die hulp van Kammaland Kleuterskool en ouers, kon hulle items wat die huis daagliks gebruik, aan die personeel oorhandig. Maar, wat hulle die meeste van die projek geniet het, was om ‘n tydjie af te knyp om broodnodige aandag aan die ouerlose babas te gee. Hulle is nou gereelde besoekers by die huis,” het Belinda Allen, hul ma, gesê. Hulle wil die gemeenskap aanmoedig om ook ‘n bietjie van hul tyd te gee, en op Saterdae van 10vm to 12nm die hulpwerkers met die babas te help.

Hulle het ook gehelp met die Silwerhoekie-lede van die NG Kerk Weltevredenpark se jaarlikse rommelverkoping. Dit was die eerste keer in die 26 jaar wat die projek aan die gang is, dat tieners handjie bygesit het.

Bianca en Chanté Allen spandeer tyd saam met die babas van Florida Baby House.

Die tweeling het besluit om ook die Wesrandse Skool vir Gestremdes in Krugersdorp met die nodige boeke te help, en het danksy die hulp en borgskap van Diskonto-boeke, boeke aan die skool geskenk. Daar is glo laas in 1985 boeke vir die skool se mediasentrum aangekoop, en die behoefte aan boeke wat die kinders regtig kan help, was baie groot.

Hulle het reeds hul oog op ‘n volgende gemeenskapsprojek. “Hulle wil kos en komberse vir die Woodrock Animal Shelter insamel, en het reeds borgskappe van Snoop Dog Doggy in Florida ontvang,” het Belinda gesê. Die gemeenskap word ook uitgenooi om tot die projek by te dra en enige donasies sal baie welkom wees. Diegene wat ‘n donasie wil gee, kan dit direk by Hoërskool Florida gaan afgee. Daar kan ook reëlings getref word om donasie te gaan afhaal.

Met al hierdie gemeenskapsprojekte het Chanté en Bianca besef dat gee lekkerder is as ontvang, en dat mens ‘n verskil in behoeftige of minderbevoorregte mense se lewens maak al dink jy jou bydrae is klein.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na roodepoortrecord@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 955 1130.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes

Randfontein Herald

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version